Maak 'n gemmerbrood-bokshuisie

JY HET NODIG

• 2 groot kartonbokse

• Skêr

• Snymessie

• Wit plakkaatverf

• Bruinpapier

• Gekleurde papier of kartonpapier

• Maskeerband of dik kleeflint

• Gom

• Gekleurde pypskoonmakers  

MAAK SÓ

Sny ’n deur en twee vensters uit een kartonboks

Die vensters kan heeltemal uitgesny word terwyl die deur steeds aan die een kant vas aan die boks vasbly sodat dit oop en toe kan maak. Ons het die boks se kante wat gewoonlik toevou, ook staan gemaak en met kleeflint vasgeplak sodat dit regop bly.

Gebruik die tweede boks om ’n dak te vorm

Sny die kante wat toevou asook een van die sye van die boks af. Daar is dan net drie sye oor waarmee ’n driehoek maklik gevorm kan word. Pas eers die driehoek op die huis voor dit in die vorm van ’n dak vasgeplak word. Die huis kan binne te donker wees; sny dus die dak se kante effens korter as dié van die mure. So sal daar van bo ook lig na binne gaan. Sodra jy gelukkig is met die grootte en lengte, plak die dak met kleeflint in die driehoek vas.

Sny ’n klompie halfsirkels uit die bruinpapier om dakteëls te maak

Jy kan die sirkels effens langer in die middel maak sodat dit beter kan plak. Gebruik die gom en plak dit sodat dit oorvleuel. Begin met die onderste ry en eindig bo. Plak een hele ry klaar voor jy met die ry daarbo begin. Maak ook ’n skoorsteen uit die pypskoonmakers en plak dit bo-op.

Verf vir jou huisie detail in met die wit verf

Dink aan ’n paar idees vir lekkers op die gemmerbroodhuis. Knip die lekkers uit gekleurde karton, plak dit op en versier ook met wit. Ons het lekkers in die tuintjie voor en teen die kant van die huis geplak. Sodra al die elemente voltooi is kan die dak bo-op die huis se mure geposisioneer en geplak word. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters