Speel lekker by die huis
pret

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Oktober 2016) 

1 HOU ’N GRIL-ETE

So ’n ete sluit in ’n bloederige handwich, goggabloed en bebloede vampiertande. Toemaar, dis eintlik net ’n handvormige hamtoebroodjie met ’n skeut tamatiesousop, rooi koeldrank met rosyntjie-“goggas” in en appelskywe gesny soos rye tande en met aarbeisous besprinkel. Gaan soek oulike idees by www.pinterest.com.

2 HOU DIE HANDJIES BESIG

Soek op Pinterest na vars idees met toiletrolle, eierboksies, papierborde, pasta en rekenaarpapier. Die idees, met of sonder gom, sal kinders van alle ouderdomme besig hou. Hoe klink vingerverf, gesigverf, groentekuns, juweliersware van pasta en ’n ruspe van toiletrolle, papiervou-idees, vreemde prentrame en vasknypdiertjies gemaak van karton en wasgoedpennetjies?

3 HOU ’N COWBOY-PIEKNIEK

Maak stokbondeltjies wat elke japsnoet oor sy skouer kan dra. Jy het stokke van sowat 1 meter lank en vierkantige stukke lap van ongeveer 40 cm x 40 cm nodig. Groot lapservette is ook ’n opsie, maar onthou dat dunner en sagter lappe beter werk. Vou die servet oop en plaas eetgoed soos lekkertjies, stukkies biltong en droëwors, klein kasies, neute en stukkies vrugterol in die middel. Vou twee van die vier hoeke oorkruis na mekaar en maak ’n knoop. Plaas die stok bo-op die geknoopte deel en knoop die ander twee hoeke oorkruis bo-oor die stok.

4 PRET MET DIE REKENAAR

As jou kind dol is oor rekenaars, gaan loer by www.kids.discovery.com en klik op die skakel vir gratis speletjies. Daar’s ’n wye verskeidenheid speletjies vir verskillende ouderdomsgroepe en vaardigheidsvlakke, en party is ook opvoedkundig.

5 HOU ’N WAATLEMOENFEES

Hou die tuinslang naby om die taai lyfies af te spuit, of laat hulle agterna swem. Koop ’n heel waatlemoen en sny hom soos ons pa in die ou dae gedoen het – in lang skywe. Laat die kinders die skywe uiteet en mekaar (en vir jou!) agterna met die skille smeer.

6 SPEEL WATERSPELE

Kry waterballonne of koop ’n groot pak goedkoop ballonne en tap dit vol water. Laat groter kinders daarmee “tennis” speel. Gebruik ’n plastiek- of hout-strandtennisspaan. Wie ook al die ballon raakslaan, kry ’n prys – al is hy of sy waarskynlik agterna sopnat. Laat kleiner kinders waterballonne na mekaar gooi – dit gaan ’n groot geplas en baie gelag afgee. Onthou, speel op die grasperk en nie op ’n stoep wat dalk kan glad wees as dit nat word nie.

7 VOU PAPIER

Leer jou kroos die kuns van origami (Japannese papiervoukuns). Daar is eenvoudige, maar volledige aanwysings by origamiusa.org.

8 KUNS IN DIE TUIN

Koop ’n groot kartonbord of gebruik ’n groot stuk lap wat voorberei is vir materiaalverf. Knyp dit op die wasgoeddraad met wasgoedpennetjies vas. Maak poeierverf aan tot loperig. Verdun materiaalverf effens met water vir die tafeldoek. Koop ’n dikkerige inspuitingspuit vir elke kind en laat hulle die verf in die spuite optrek en op die karton of lap spuit (dit werk ook lekker in spuitbottels). Raam die kunswerk en gebruik die tafeldoek om julle te herinner aan die beste vakansie ooit. Onthou net: Hul klere gaan beslis bemors wees – laat hulle iets dra waarvoor jy nie jammer is nie.

9 MAAK SAAM TUIN

Min dinge gee kinders soveel genot as om gaatjies te maak vir saadjies of steggies en dit daarna nat te gooi en te versorg. Selfs al het jy nie ’n tuin nie, kan jy steeds ’n groot blombak, steggies en ’n sakkie potgrond koop en daarin tuinmaak.

10 KWEEK BOEKWURMS

As jy nie in jou plaaslike boekwinkel of biblioteek iets lekkers in Afrikaans raakloop vir jou kind se ouderdomsgroep nie, bestel aanlyn by www.lapa.co.za. Lapa gee ’n verskeidenheid kinderboektitels uit en daar is badboekies, voel-en-vatboekies, lapboekies en boeke vir voorlees en selflees.

11 HOU ’N SKATTEJAG

Jou kinders kan pret hê in die huis of in die tuin. Lees raaiselrympies uit as leidrade of teken ’n kaart. Laat die kinders een-een gaan soek om te sorg dat elke kind darem iets vind.

12 FLIEK BY DIE HUIS

Hou ’n fliekvertoning in die sitkamer. Laat die kinders kaartjies “koop” en verkoop yskoeldranke (gemaak van aanmaakkoeldrank wat jy amper vries) en mikrogolf-springmielies. Vir ekstra effek kan jy die vertrek net so donker maak soos in ’n fliek, en laat die kinders spesiaal aantrek vir die okkasie.

13 BAK EN BROU

Daar’s ’n hele klompie kindervriendelike resepteboeke op die mark, en Lapa se Nie vir ma’s nie! deur Daleen van der Linde, en die Klein Kook en Geniet (deur Eunice van den Bergh en S.J.A. de Villiers, Human & Rousseau, bestel by www. takealot.com) is propvol idees vir flukse klein handjies.

14 VERRASSING!

Koop papierlinte en laat die kinders mekaar daarin toedraai. Of gebruik rolle toiletpapier! Laat hulle soos mummies rondloop. Onthou om foto’s te neem – die foto’s gaan hulle nog ’n ruk lank besig hou!

Hoe spandeer jy tyd saam jou kleintjies by die huis? Stuur jou stories, kiekies en kommentaar aan web@babaenkleuter.co.za laat weet as jy anoniem wil bly indien ons iets publiseer wat jy stuur.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters