Smaaklike babakos
resep

Hier is 'n paar resepte wat ontwerp is om babakos interessanter te maak, maar steeds relatief moeiteloos. Die nuutste navorsing oor babavoeding het die reëls nogal verskuif.

Daardie lang lyste kossoorte om te vermy, is iets van die verlede. Ma’s kan gerus maar bietjie ontspan en fokus op die goeie wat kos kan doen, en nie die potensiële kwaad daarvan nie.

Lees: Puree gee krag: Bessiepuree

Vertrou jou instinkte en gee vir jou kind ’n babavriendelike weergawe van wat julle tuis eet. Hou die klem op vars, gesonde bestanddele, gee ’n verskeidenheid kossooorte, bly weg van sout, suiker en geprosesseerde kosse en jou baba behoort te floreer en sonder probleme te ontwikkel.

Hou die atmosfeer rondom etenstye ontspanne en plesierig. Jou doel is om jou baba iewers tussen een en twee jaar oud by die res van die gesin se maaltye te laat inskakel. Moedig jou baba met liefde en geduld aan om haar natuurlike voorkeur vir gesonde kos te laat ontwikkel.

Allergies?

“Jy kan ook hoërisiko-allergiekos vanaf ses maande gebruik sonder om jou baba aan allergieë bloot te stel. Jy verminder nie die kanse op ’n reaksie deur ’n kossoort later te begin gee as jou baba in elk geval daarop sou reageer nie. Trouens, as jy dit later as sewe tot nege maande uitstel, verhoog jy die risiko van ’n reaksie op hierdie kos wanneer dit uiteindelik gegee word.”
Bron: Sinvolle Voeding, Metz Press

Lees: Kos in 'n klits

Intolerant?

“Die heel ergste vorms van laktose-intoleransie sal voortduur wanneer jou baba gereed is om vaste kos te begin eet. Laktoseintoleransie verdwyn gewoonlik binne die eerste ses maande. ’n Ware aangebore gebrek aan die laktase-ensiem wat tot lewenslange laktose-intoleransie lei, is bitter skaars.”
Bron: Sinvolle Voeding, deur Megan Faure, Katherine Megaw en dr. Simon Strachan, Metz Press

Eerste kos

Sodra jou baba aan 'n verskeidenheid groentesmake gewoond is, kan jy begin om hulle te kombineer in gladde gemengde groentepurees.

Blomkool-en-pampoentjies

  • 500 ml (2 k) blomkoolstukkies
  • 250 ml (1 k) murgpampoentjies, in dik skywe gesny
  • 250 ml (1 k) vlapampoentjies, in kwarte gesny
  1. Stoom die groente tot heeltemal sag.
  2. Verpulp in die voedselverwerker tot heeltemal glad.
  3. Voeg water uit die stomer of ’n klein bietjie olyfolie by indien nodig om die mengsel glad te kry volgens jou baba se kou-vermoë.
  4. Verdeel in porsies.
  5. Gebruik een porsie vir jou baba en vries die res.

Ryspap en Appelkoos 

  • 250 ml (1 k) sagte gedroodge appelkose (Turkse)
  • 200 ml Rooibostee of water

  1. Ryspap berei volgens die instruksie op die boksie
  2. Prut die appelkose vir sowat 12-15 minute in die tee of water tot uitgeswel en sag.
  3. Verpulp met ’n stokmenger tot heeltemal glad.
  4. Voeg water of van die Rooibostee by om ’n gladde puree te vorm.
  5. Maak die ryspap aan.
  6. Roer van die appelkoospuree by die babapap.
  7. Vries die res van die appelkoospuree.

Nog idees:

Jy kan eintlik enige vrugtepuree by jou baba se ryspap meng, maar dis veral lekker om die suurder vrugtesoorte so in te kry. Wanneer jy vir jou baba begin jogurt gee, kan jy weer die soeter vrugtepurees inspan. Onthou, ongegeurde volvet jogurt is die beste vir babas. Babas het nie bygevoegde suiker nodig nie – nie vir hul smaakkliere nie, en ook nie vir hul gesondheid nie.

6-9 Maande

Koeskoes is 'n gerieflike stylsel wat tekstuur by jou baba se kos kan voeg. As jy nog gladde babapurees in die vrieskas oor het, kan jy dit blitsvinnig met koeskoes in iets vir jou ouer baba omtower.

Hoender-perske-en-koeskoes

  • 1 vellose hoenderdytjie;
  • 70 ml water
  • 30 ml (2 e) koeskoes;
  • 1 ryp perske of ’n paar skyfies geblikte perskes in vrugtesap

  1. Plaas die hoenderdytjie en water in ’n kastrolletjie en bring tot kookpunt.
  2. Prut vir ’n paar minute tot die hoender net gaar is. Behou die water.
  3. Skink sowat 60 ml van die hoenderwater oor die koeskoes en laat vir 5 min. staan.
  4. Maak los met ’n vurk. Skil die perske af en verpulp.
  5. Voeg die gaar hoender by en pols tot verwerk.
  6. Roer die gaar koeskoes by.

Eiergeel-en-aartappels 

  • 1 middelslag aartappel, geskil en in blokkies gesny
  • 1 middelslag prei, in skyfies gesny
  • 40 ml water
  • 60 ml (¼ k) ertjies, gaar geel van 1 hardgekookte eier

  1. Prut die aartappel en prei saam in die water tot gaar.
  2. Gebruik ’n vurk en druk saam fyn.
  3. Verwerk die ertjies en eiergeel saam met ’n stokmenger en meng met die aartappelpreimengsel.
  4. Roer ’n bietjie olyfolie of water by as die mengsel te styf is.

Het jy geweet

Eiergeel is dig gepak met ’n rits voedingstowwe wat goed is vir jou baba se groeiende lyfie. Eierwit is ’n bekende allergeen, maar onthou, voedselallergieë is nie algemeen nie. Kry ’n diagnose van ’n dokter of pediater wat in allergieë spesialiseer sodat jy nie onnodig sekere kosse uit jou baba se dieet sny nie.

9-12 maande

Vingerkos is morsig, maar oor-en-oor die moeite werd. Veral kieskeurige babas is meer geneig om 'n nuwe smaak of tekstuur te aanvaar wanneer hulle self in beheer van die maaltyd is.

Strudeldoopsous

  • 60 ml (¼ k) ricotta
  • 30 ml (2 e) appel- of peerpuree
  • 2,5 ml (1/2 t) vanieljesmeer of -geursel
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel
  1. Meng alles saam met ’n vurk en gebruik as ’n doopsous met repies kaas, stukkies brood of pita en klein stukkies vrugte, soos piesangrepies.
  2. Vir ’n interessante alternatief kan roosterbrood met ’n koekiedrukker in hanteerbare vormpies gesny word.

Tamatie-boon-sous vir pasta

  • 1 x 410 g-blik gekapte tamatie
  • 125 ml (½ k) geblikte wit bone, gedreineer
  • 20 ml (4 t) olyfolie; 60 ml (¼ k) tamatiepuree
  • 10 ml (2 t) melasse; 10 ml (2 t) mosterd
  • 10 ml (2 t) appelasyn
  • 5 ml (1 t) vars pietersielie, fyngekap
  • 1 knoffelhuise, fyngepers

  1. Plaas al die bestanddele, behalwe die pietersielie en knoffel saam in ’n kastrol en prut vir 20 minute.
  2. Verwyder van die hitte en gebruik jou stokmenger om dit fyn te maak.
  3. Roer die pietersielie en knoffel by.
  4. Sit saam met fyn pastavormpies voor en rasper ’n bietjie Parmesaan bo-oor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters