Kos in 'n kits

Weense worsies: 1/5 

Dis ’n swak keuse omdat dit baie preserveermiddels, kleurstowwe en versadigde vette bevat. Gerookte produkte bevat ook stowwe wat kanker kan veroorsaak. As dit moet, sit voor met volkoringrolletjies, tamatiesous en slaaiblare.

Boeliebief: 1/5

Ingelegde soutvleis is vol sout, suiker, vet, verwerkte vleis en geurmiddels. Dis nie gesond nie. Hou eerder by die supermark stil en koop ’n geroosterde hoender.

Visvingers: 2/5

Ja, jou kind kry darem so ’n bietjie vis in, maar dis baie verwerk en daar kom ongesonde gehidrogeneerde vette in visvingers voor. Maak eerder jou eie viskoekies en hou dit in die vrieskas.

Tweeminuut-noedels: 2/5

Die meeste bevat heelwat vet en die sakkies speserye is vol sout en bymiddels. Lees die etikette om die beste een te kies. Gooi die speserye weg en geur met tamatiesous, tuisgemaakte maalvleis of groente.

Bevore mini-pizza: 3/5

Voeg ’n paar ekstras by die gewone kaas-en-tamatie-pizzatjies om die voedingswaarde te verhoog. Sit hoenderrepies by, of sampioene of pynappel. Mozzarellakaas sal die proteïen- en kalsiumvlak verhoog en bevat meestal minder vet as geelkaas.

Bone in tamatiesous: 4/5

Gebakte bone is ’n vinnige bron van proteïen. Dit het ’n baie lae glisemiese indeks en hou bloedsuiker stabiel. Dit bevat min vet, is prakties, en kinders hou daarvan. Enigste nadeel? Dit bevat taamlik baie sout.

Jogurt: 5/5

Moenie skuldig voel as aandete soms net uit jogurt bestaan nie. Dis propvol proteïen, kalsium en goeie bakterieë, en bevat min vet as jy reg kies. Jogurt hou jou lank vol, want dit het ’n lae glisemiese indeks. Kies ’n soort sonder te veel suiker.

Eiers: 5/5

Veelsydig, goedkoop en gesond... en dan’s dit nog vinnig om gaar te maak ook! Dis ons superkortpadkos! Eiers is ryk aan proteïen en ’n goeie bron van yster. Dis ryk aan B-vitamiene en jy kan jou kind elke dag ’n eier gee sonder om jou oor cholesterol te bekommer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters