Laat elke kind tel

Elke kind het unieke talente en behoeftes. Een van die doelwitte van inklusiewe onderwys is om in hoofstroomskole vir kinders met leer- of ander gestremdhede voorsiening te maak. ’n Leergestremdheid of -hindernis is enigiets wat inmeng met ’n kind se vermoë om te kan leer, soos fisieke probleme ,aandaggebrek, verstandelike agterstand of ’n gehoorverlies.

Natuurlik is dit in die praktyk soms moeilik om dit te laat werk, maar daar is genoeg navorsing wat daarop dui dat inklusiewe onderwys nie net vir daardie kind ’n verrykende ervaring kan wees nie, maar ook vir sy klasmaats, onderwysers en die hele skool.

Dié stelsel word al sedert 2001 in Suid-Afrika aangemoedig.

Voordele

Kinders met leerhindernisse se akademiese prestasie verbeter as hulle in hoofstroomskole is, het dr. Anna-Barbara du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige in die privaat praktyk in Centurion, gevind in haar navorsing vir haar doktorale verhandeling. Hulle leer ook om ’n groter verskeidenheid sosiale verhoudings te bou en hul selfbeeld word bevorder. Maar wat ook interessant is, is die voordele vir die ánder kinders wat die klas deel.

Wanneer onderwysers aanpassings maak aan lesmateriaal, soos om lesse meer konkreet, visueel of kinesteties aan te bied, leer baie van die ander outjies ook makliker. Verder verbeter inklusiewe onderwys ook die lewensvaardighede van klasmaats omdat hulle van jongs af leer oor aanvaarding, begrip, verdraagsaamheid, diversiteit en die nadele van stereotipering en negatiewe persepsies.

Hilda Middeljans is ’n graad 1-onderwyseres by die Gereformeerde Laerskool Johannes Calvyn in Pretoria en werk tans aan ’n meesters graad aan die Universiteit van Pretoria. Hilda het al die afgelope twee jaar kinders met leerhindernisse in haar klaskamer en beskou dit as ’n voorreg om betrokke te wees by inklusiewe onderwys. Sy glo dat elke klas ’n leerling met spesiale behoeftes moet hê.

“Die voordele van inklusiewe onderwys oortref verreweg die ekstra werk wat dit vir my as onderwyseres meebring,”sê Hilda.

Inklusiewe onderwys kan ook vir die ouers van kinders met leerhindernisse ’n positiewe ervaring wees omdat die geleentheid vir hulle daar is om ’n breër ondersteuningsnetwerk in die plaaslike gemeenskap op te bou, sê Anna-Barbara.

Hoe werk dit prakties?

Die grootste uitdaging is om die kinders met leerhindernisse tuis en gelukkig in hul leeromgewing te laat voel, sê Hilda.

Daarna moet die onderwyser aanpassings maak in hoe die leerplan aangebied word, deur byvoorbeeld meer visuelehulpmiddels, konkrete voorbeelde en fisieke aktiwiteite in te span om begrippe te verduidelik. Werkstukkies moet ook individueel aangepas word op die vlak van die kind met leergestremdhede.

Sy sê verder dat dit soms vir die klasmaats moeilik kan wees om te verstaan hoekom kinders met leerhindernisse geprys word vir iets wat die ander kinders al lankal reggekry het. Dis belangrik om al die kinders te laat verstaan waarvoor die kind met leerhindernisse beloon of gestraf word en waarom.

Die sukses van inklusiewe onderwys hang nie net van die onderwyser af nie, maar ook van die betrokkenheid van die ouers. Hilda sê dat ouers gereeld met die onderwyser moet kommunikeer, ekstra werk by die huis moet doen en ’n netwerk van mense om hulle moet skep wat kan help dat die kind sy volle potensiaal bereik. Hierdie netwerk kan bestaan uit familie, vriende, terapeute, verenigings vir mense met spesiale behoeftes en selfs die gemeenskap. As hulle dit kan bekostig, kan ouers gerus ook ’n onderwys-assistent spesifiek vir hul kind met leerhindernisse aanstel. Die assistent se taak is dan om die kind gedurende die skooldag met klastake te help.

Nie alle kinders pas suksesvol in ’n inklusiewe-onderwys-klaskamer aan nie. Die graad van gestremdheid speel ’n rol, asook die ervaring en houding van die onderwyspersoneel, die beskikbare hulpbronne en die betrokkenheid van die ouers, sê Anna-Barbara. Ouers moet in samewerking met hul ondersteuningstelsel versigtig oorweeg in watter omgewing hul kind met leerhindernisse optimaal sal leer.

Berei klasmaats so voor

Ons het Anna-Barbara, Hilda en Marykede Wit, ma van Pieter, ’n graad 2-seun met Down sindroom in ’n hoofstroom laerskool, gevra hoe die klasmaats van kinders met gestremdhede daarop voorberei kan word om ’n klaskamer te deel. Hier is hul antwoorde.

  • Hou ’n inligtingsdag oor inklusiewe onderwys waar ouers van kinders met leerhindernisse vir ander ouers kan vertel watter uitdagings hul kinders ervaar en die onderwysers kan verduidelik wat die voordele van inklusiewe onderwys is en watter praktiese implikasies dit in die klaskamer het.
  • Onthou dat dit ’n sensitiewe saak is; hou dus die kommunikasiekanale oop sodat alle ouers vrae kan vra.
  • ’n Gebrek aan inligting veroorsaak dikwels agterdog en wanpersepsies. Kommunikeer dus openlik met ouers en met klasmaats op hul vlak.
  • Sorg dat klasmaats weet dat anders nie minderwaardig is nie, en dat daar meer ooreenkomste as verskille tussen hulle en kinders met gestremdhede is. Lees vir hulle dan kinderboekies oor kinders met spesiale leerbehoeftes of kyk na ’n fliek soos Happy Feet. Om vir die klasmaats te vertel wat die kind se gunsteling dinge is, skep raakpunte en kan help om vriendskappe te vorm.
  • Selfs voorskoolse kinders kan verstaan dat sommige kinders anders leer. Moenie kinders se kapasiteit om met diversiteit saam te leef onderskat nie.
  • Gee die volgende inligting vir klasmaats: Watter soort gestremdheid die kind het, watter soort gedrag hy dalk kan openbaar, hoe hulle moet optree wanneer hy ’n moeilike dag het en wat die prosedure vir prestasies en wangedrag in die klas is.
  • Handhaaf ’n beleid van geen verdraagsaamheid vir tergery en afbrekende opmerkings nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters