Slim voor skool begin

Om daardie laaste week voor die skool begin, desperaat te skarrel om alles gereed te kry vir jou kind se groot dag is niemand se idee van pret nie – veral nie as ’n skoolrok in haar grootte nêrens in sig is nie!
(Hoor dit van iemand wat weet.)

Die praktiese voorbereiding vir jou kind se eerste skooldag behoort eintlik ’n opwindende en lekker tyd vir julle twee te wees, maar die geheim is om betyds te begin. Baba & Kleuter het ’n lys wenke van ervare ma’s en onderwyseresse bymekaargemaak om jou oor die laaste hekkies voor die groot dag te begelei.

Nou tot 10 Desember

  • Gaan merk 10 Desember sommer nou in jou dagboek: Dis wanneer die skole vanjaar sluit. Daar is ’n paar takies wat jy voor dié datum moet afhandel terwyl die onderwysers en skool nog tot jou beskikking
    is.
  • As jy dit nie reeds by die skool se ope dag gekry het nie, gaan vra nou vir al die lysies van skryfbehoeftes, skoolklere en so meer wat jou kind dalk gaan nodig kry. Vra ook ’n afskrif van die skoolreëls.
  • Maak ’n draai by jou kind se onderwyseres en stel jou voor. Bespreek alles oor jou kind wat dalk spesiale behandeling vereis, soos as hy dalk ‘n mediese probleem het. Vra uit oor hoe dinge soos die toiletroetine werk sodat jy jou kind daarop kan voorberei.
  • Gaan wys jou spruit die skool en stel hom aan sy nuwe onderwyser voor as jy kan. Wys vir hom waar sy klas en die toilette is, asook waar jy hom elke dag ná skool gaan ontmoet.
  • Stel vas watter buitemuurse aktiwiteite beskikbaar is en op watter dae dit waarskynlik aangebied sal word.
  • Vind uit of daar enige maatjies is wat jou kleinding ken wat na dieselfde skool of klas toe sal gaan en probeer sy kontakbesonderhede kry sodat julle speelafsprake vir die vakansie kan reël. Dit sal baie help as jou kind byna niemand ken nie.
  • Doen ’n proefrit om te sien presies hoe lank dit jou sal kos om in verkeer skool toe te ry. Onthou dat selfs vyf minute soms ’n verskil maak aan die verkeerslading.
  • Lees al die dokumente wat jy by die skool gekry het deeglik deur sodat jy jou vergewis wat van jou en jou kind verwag sal word. As jy enige vrae het, kontak die skool nou daaroor.
  • Vind uit presies wat jou kind se skooluniform behels en waar jy dit kan kry. Soms is sekere items net by die skool se klerebank beskikbaar en as die skool sluit, het jy geen manier om dit te bekom nie!
  • Tref die nodige reëlings vir jou kind se nasorg (as hy soontoe moet gaan) en vervoer (as jy hom nie self kan op- en aflaai nie).
  • Bestel merkstroke met name op as jy dit gaan gebruik. Dis ideaal om die aanstrykweergawe te koop, aangesien jy dit vinnig en maklik kan heg en dit meer sigbaar as die meeste ander merkmiddels is.
  • Koop jou kind se skooluniform – onthou, daar is honderde tot duisende ander ma’s wat ook nou skooluniforms koop en as jy dit tot te laat los, is die kanse groot dat een of ander item in jou kind se grootte reeds uitverkoop sal wees. Skoolklere koop kan duur word, hou dus die volgende in gedagte:
  1. Jou kind het ’n minimum van twee uitrustings nodig, maar drie is beter, want dan is daar een in die kas, een in die was en een vir die bas.
  2. Maak baie seker oor die spesifikasies van jou kind se skool. Moenie van haarrekkies en knippies vergeet nie.
  3. Baie skole het goedkoper en duurder uniformopsies beskikbaar.
  4. Vra ervare skoolma’s waar hulle winskopies kry.
  5. Koop jou kind se klere ietwat groot, want gr. 1’tjies kan baie vinnig groei, maar moenie dat jou kind daarin verdrink sodat hy ongemaklik voel of afsak nie. Jou kind se hempkragie moet lekker los sit.
  6. Maak seker watter klere jou kind in die somer en watter hy in die winter gaan dra. Moenie nou al winterklere koop nie; dit sal dalk te klein raak.
  7. Doen jou huiswerk oor pryse: Jy kan soms presies dieselfde kledingstuk baie goedkoper by ’n ander winkel kry. Maar onthou ook dat goedkoop koop soms duurkoop kan wees.

10 Desember tot 1 week voor die skool open

  1. Koop nou skoolskoene. Dit gee jou kind genoeg tyd om dit uit te trap sodat dit gemaklik pas wanneer die skool begin.
  2. Koop haar boeksak. Stel vas wat die skool se spesifikasies is, indien enige. Die boeksak moenie te swaar wees nie, maar moet groot genoeg wees dat ’n A4-boek of - blad met gemak daarin kan pas. Meer as een vakkie, sodat jy die kosblik weg van die boeke kan inpak, is verkieslik. Dis beter vir haar rug as sy die boeksak oor albei skouers kan dra.
  3. Reël dat sy soms ’n hele oggend lank by ’n maatjie gaan speel sodat sy gewoond kan raak daaraan om sonder jou te wees. So oefen julle die afskeid.
  4. Ry gereeld by die skool verby en wys vir jou kind waar jy haar gaan oplaai en waar haar klas is, sodat sy vertroud voel met die omgewing.
  5. Gesels met jou kind oor moontlike buitemuurse aktiwiteite en hoe julle dit wil inpas.
  6. Koop haar skryfbehoeftes. Die meeste skole verskaf ’n volledige lysie van die skryfbehoeftes wat jou kind sal nodig hê. Ander verkoop ’n klaar saamgestelde pakket wat jy net by die skool kan kry.
  7. Die beste tyd vir skryfbehoeftes koop is tussen Kersfees en vroeg Januarie omdat al die spesiale aanbiedinge dit dan moontlik maak om die skryfbehoeftes goedkoper te kry, en die winkels gewoonlik stiller is.
  8. Jy hoef nie die duurste skryfbehoeftes te koop nie, maar koop gehalte, anders gaan jy weer koop. Dis veral belangrik vir jou kind se HB-skryfpotlood, wat sy baie gaan gebruik.
  9. Betrek jou kind – sy kan alles afmerk wat julle klaar gekoop het. Dit sal haar deel laat voel van die gebeure.
  10. Koop ’n kosblik wat jou kind maklik oop en toe kan maak, en ’n koeldrankhouer wat heeltemal dig sluit. As jy jogurt of so iets wil inpak, maak seker die kosblik is hoog genoeg. Koelsakkies hou kos lekker koel. Metaalbottels met inknipproppe is duursaam.
  11. Kry jou stelsels in plek, soos ’n vaste bêreplek waar sy elke dag haar tas kan neersit en ’n mandjie waar sy al haar briefies of haar huiswerkboekie kan neersit sodat jy dit dadelik kan sien.
  12. Begin die groot merkprojek. Onthou, elke enkele ding moet gemerk word met haar naam, van haar skoene en skoolklere tot elke potlood. Betrek jou kind gerus. Sy kan die name wat jy op die rekenaar uitgedruk het, uitknip sodat jy dit op die skryfbehoeftes kan plak. Spesiale merkpenne, rekenaar- gedrukte papiertjies wat met kleeflint geplak word of materiaalplakstroke op klere werk alles goed.
  13. Rig ’n huiswerkstasie by die huis in: ’n stil, goed-beligte plek waar sy ongestoord kan sit en huiswerk doen. Jou kind moet gemaklik kan sit, weg van die televisie en verkieslik by 'n lessenaar. Maak dit 'n spesiale plekkie en laat haar gereeld in die vakansie daar sit en huis- werkies doen soos inkleur of prentjies teken. 
  14. Doen die laaste bietjie voorbereiding:
  • Oefen vaardighede wat nog ’n bietjie geslyp moet word, soos om veters vas te maak.
  • Gee aandag aan higiëne soos dat sy weet hoe om haar neus self te blaas.
  • Praat oor veiligheidskwessies, soos wat om te doen as jy laat is.
  • Gesels oor moontlike vrese en spreek dit gerusstellend aan. Bespreek hoe om klas te verlaat as sy toilet toe moet gaan, en hoe sy die juffrou moet aanspreek. Rolspeel moeilike sosiale situasies, soos  hoe om ’n maatjie te vra om te speel, of wat om te doen as ’n maatjie lelik is.
  • Werk saam met haar ’n kosblikspyskaart uit.

Die laaste week

  1. Ná die meer ontspanne atmosfeer van die vakansie word dit nou tyd vir ’n gesonde en vroeër slaaptydroetine. ’n Skoolgaande kind behoort verkieslik teen agtuur al in die bed te wees. Jy kan
    slaaptyd geleidelik ál vroeër maak. Staan ook soggens vroeër op sodat jou kind gewoond daaraan raak.
  2. Onderneem weer ’n proefrit skool toe, al is dit net om jou kind gerus te stel.
  3. Bevestig weer al die reëlings wat te doen het met jou kind se vervoer, nasorg en buitemuurse aktiwiteite.
  4. Gee aandag aan fi sieke versorging. Sorg dat sy hare netjies gesny is volgens die skoolreëls en sny sy naels mooi kort.
  5. Skaf ’n paar banksakkies aan en hou kleingeld daarin. Daar sal dikwels versoeke vir geld kom.
  6. Laat jou kleinding weer sy skoolklere aanpas om seker te maak dis nommerpas en neem gerus ’n paar foto’s.
  7. Reël vir oulaas dat ’n maatjie kom speel.
  8. Pak jou kind se boeksak saam met hom en laat hom afmerk wat alles al gedoen is. Dit sal hom gerusstel en lekker opgewonde laat voel oor die groot dag.
  9. Vestig solank ’n roetine deur hom elke aand sy klere vir die volgende dag te laat regsit.
  10. Stel hom gerus oor wat kom en bou sy selfbeeld deurentyd.

Die laaste dag

  • Bring ’n rustige dag saam deur.
  • Stel jou wekker en sit alles saam reg.
  • Vertel vir jou kind jy is lief vir hom en dat jy seker is hy gaan skool baie geniet.
  • Maak jul laaste aand ’n ontspanne gesinsaand – en dan vroeg bed toe. Môre is die begin van groot dinge!

Superwenk:

Moet om veiligheidsredes nie jou kind se naam buite haar tas skryf waar mense dit kan sien as sy dit op haar rug dra nie. Heg liewer 'n unieke kenteken aan haar tas soos 'n string krale aan haar ritssluiter sodat sy dit dadelik kan uitken tussen ander wat dieselfde lyk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters