Speel-speel reg vir graad 1: syfers

Die kleingoed spring vroeg in graad 1 al met somme en ander wiskundige begrippe weg en as hulle reeds iets van syfers verstaan, sal dié uitdaging soveel makliker wees.

Maak jou kind dus slaggereed vir wiskunde deur tuis speel-speel die fondament daarvoor te lê. Baie van ons dink net aan wiskunde as somme, maar eintlik het wiskunde vele verskillende fasette. Dit sluit natuurlik ’n begrip van getalle en telvaardighede in, maar ook konsepte soos hoeveelhede, gewig, inhoud, grootte, rangorde, patrone en verhoudings tussen dinge. Dit behels ook meting, breuke, skatting en selfs statistiek.

Onderliggend aan wiskunde is ook vaardighede soos probleemoplossing, goeie kommunikasie, redenasie en die vermoë om ’n verband tussen goed raak te sien. Die wonderlike is dat dit alles begrippe is wat ons elke dag gebruik – dikwels sonder om twee keer te dink – en wat jy dus maklik vir jou kind kan help leer.

Die sleutel is om wiskunde vir jou kind toeganklik en lekker te maak en hom te wys hoe hy dit in die praktyk kan gebruik. Hoe lekkerder dit vir hom is en hoe meer ontspanne hy is wanneer hy dit doen, hoe makliker sal dit vir hom wees.

As jy ’n wiskunde-geraamte in jou kas het, sluit dit so diep moontlik weg en span ons lekker speletjies in om jou kind lus te maak vir somme. 1, 2, 3, 4 ...

Het jy geweet? Navorsing het getoon babas word gebore met basiese wiskundige insigte en kom selfs in die eerste week ná geboorte agter as die aantal voorwerpe wat hulle sien, verander. 

Wenk: As dit kom by wiskunde is dit ’n goeie idee om jou kind alles so konkreet moontlik te laat ervaar. Laat hom eers 4 lepels tel voor jy begin om hom nommers op papier te leer.

Tel- en meetspeletjies

  • Tel letterlik alles wat voorkom, van die borde terwyl julle tafel dek tot die lamppale in jul straat en die skape in die kraal. 
  • Kyk wie kan die meeste wasgoedpennetjies die vinnigste aan ’n lyn vasknyp en tel terwyl julle dit doen.
  • Meet een keer ’n maand op ’n vaste plek teen sy kamermuur hoe lank jou kind geword het en skryf dit by die merkie neer.

Liedjies en rympies

  • Sing "Tien Klein Paddatjies" om hom te help om vorentoe en agteruit te tel.
  • Julle kan ook "Een Klein, Twee Klein, Drie Klein Perdjies" sing op die wysie van die Engelse telliedjies "Ten Little Indians".
  • Maak jul eie lawwe woorde opmaak vir "Ten Green Bottles".
  • Lees en leer vir jou kind rympies.
  • Lees saam telboekies.

Raai-speletjies

  • Dink aan ’n getal tussen 1 en 10 en laat jou kind raai wat dit is. Jy kan hom leidrade gee soos “meer” of “minder” om hom te help om by die regte getal uit te kom. 
  • Raai-raai hoeveel treë is dit van die een kant van die grasperk na die ander kant?
  • Of hoeveel handbreedtes is die kombuistafel wyd?
  • Hoeveel koppies water maak die beker vol? Elkeen gee sy skatting en dan meet julle dit.

Aksiespeletjies

  • Speel wegkruipertjie en laat jou kind tot 20 tel voor hy mag gaan soek. As hy nog nie kan nie, tel saam met hom terwyl die ander wegkruip.
  • Speel Wolf-Wolf, Hoe Laat Is Dit?
  • Speel Koning, Koning. Almal staan in ’n ry 10 meter van die koning af. Hulle vra: “Koning, koning, mag ek maar op reis gaan?” Die koning sê hoeveel treë, paddaspronge of balletspronge elkeen vorentoe mag gee. Die een wat eerste voor kom, wen.
  • Skryf die getalle 1 tot 10 elk op ’n groot folioblad en plaas dit met jou kind se hulp in volgorde op die vloer. Laat hom die getalle aftel terwyl hy van die een na die volgende spring (ook agteruit). Sê dan enige getal van 1 tot 10 en kyk of hy dit kan kry – hy moet so gou moontlik daarop gaan staan. As hy dit onder die knie het, sê hy moet die getal vind wat net minder of net meer is as die een waarop hy staan.

Dobbelsteentjie-pret  

  • Speel enige speletjie met ’n dobbelsteentjie, van Slangetjies & Leertjies tot Ludo. Laat hom self sy skuiwe aftel of tel dit saam met hom as hy nog sukkel. 
  • Sê hy moet ’n getal tussen 1 en 6 gee en dan het jy 3 probeerslae om daardie getal te gooi. Dan gee jy weer ’n getal en hy moet dit probeer gooi.
  • Merk ’n dobbelsteentjie met ’n S vir Snaaks, K vir kleur, E vir Eet, T vir tel, D vir dans en so meer. Gooi dit saam met ’n gewone dobbelsteentjie. Jy moet dan soveel keer as die getal op die een dobbelsteentjie doen wat die ander dobbelsteentjie aandui, byvoorbeeld 3 snaakse gesigte trek, 5 kleure in die vertrek uitwys, 2 Smarties eet, 6 goed tel, of vir 3 sekondes dans. Tel saam soos die take afgehandel word en maak beurte.
  • Elkeen kry 2 dobbelsteentjies. Kyk wie die hoogste getalle kan gooi. Tel die totaal van die 2 dobbelsteentjies hardop bymekaar. 

Bordspeletjies

  • Speel bordspeletjies soos Monopoly. Pas die reëls effens aan om dit makliker te maak.
  • Leer jou kleinding skaak speel. Jy sal verbaas wees hoe jonk hulle al die regte skuiwe kan leer en jou onder die stof kan speel.
  • As skaak jóú intimideer, beproef dambord.
  • Speel eenvoudige kaartspeletjies.
  • Speel domino en laat hom die hoeveelheid kolletjies hardop tel. Julle kan ook die verskillende stukkies sorteer sodat almal wat 2 of 3 kolletjies op het, bymekaar is.

In die bad

  • Daar is min plekke waar jou kind so lekker van hoeveelhede, meting en verhoudings leer as in die bad. Vat plastiekmaatbekertjies bad toe en laat hom water afmeet en bakkies volmaak. Vra hom hoeveel 500 ml-bakkies hy nodig het om die 1 L-bak vol te maak. Watter bakkie is die grootste? Watter die kleinste? Watter hou die meeste water?
  • Wys hom een lang 250 ml-glas en een kort, dik 250-ml glas en vra hom om te raai watter een is die grootste. Gooi die inhoud van die een glas in die ander sodat hy kan sien dit hou ewe veel.

In die kombuis

  • Bak saam klein koekies. Laat jou kind die bestanddele met jou hulp afmeet. Tel hardop hoeveel teelepels water en hoeveel koppies meel julle byvoeg. Gesels oor watter bestanddele die meeste is, watter die minste, en hoe lank alles duur. Laat hom syfertjies van die oorskietdeeg vorm.

Nommer asseblief? 

  • Skryf die getalle van 1 tot 100 in blokkies op ’n bladsy en neem dit oral saam waar julle ry. Vra jou kind om enige nommers wat hy in sy omgewing sien, op die bladsy te vind. Sê die nommer hardop. Kyk uit vir huisnommers, straatnommers, nommerplate en so meer.
  • Gaan op ’n nommerjag. Stap in die buurt en kyk waar julle oral nommers kan sien. As julle ’n nommer kry, lees dit hardop of skryf dit neer.

Naaldwerkkissie

  • Pak jou knope-kissie uit en laat jou kind die knope van groot na klein rangskik. Hy kan hulle dan ook volgens grootte, vorm of kleur uitsoek.
  • Gooi ’n klomp knope deurmekaar en kyk wie dit die vinnigste soort volgens soort kan uitsoek.
  • Begin kraletjies in ’n vaste patroon ryg: twee bloues, een groene, een swarte. Vra jou kind om aan te gaan waar jy opgehou het. 5-2+3=?

Speel winkel-winkel

  • Merk goedere in die winkel met duidelik leesbare pryskaarte soos R2 of R5. Gee jou kind geld en help hom om die waarde daarvan te lees. Maak beurte om winkelier en klant te speel.
  • Hoe ouer jou kind word, hoe meer ingewikkeld kan jy die sommetjies in die speletjie maak.

Speel met kos

  • Ek het twee koekies, maar ek eet een. Hoeveel het ek oor?
  • Ek het twee Smarties in hierdie hand en vyf in hierdie hand. Watter is die meeste?
  • Sny ’n pizza of vars appel in ewe groot dele op en laat jou kind dit weer aanmekaarsit.

Handwerkplesier

  • Skryf die getalle 1 tot 12 op ’n papierbord soos op ’n horlosie. Laat jou kind dit natrek en versier. Maak dan ’n kort en lang horlosiewyser van karton en sit dit vas met ’n drukspyker waarvan jy die skerp punt platkap sodat die wysers nes ’n horlosie s’n kan draai. Help jou kind om dit deur die dag volgens die regte tyd te stel.
  • Knip gekleure papiere in verskillende vorms en plak patroontjies in ’n ry: twee blou sirkels, een groen vierkant, drie geel driehoeke.
  • Skryf elke nommer tot 10 sowat ’n liniaalbreedte breed sodat dit ’n hele ’n A4-karton groot is en vra jou kind om dit te versier. Plak dit teen sy kamermuur. Blinddoek hom en laat hom dan voel tot hy ’n nommer raakvat. Dan kan hy die blinddoek afhaal en daardie hoeveelheid lekkertjies eet.
  • Maak yskasmagneetjies deur nommers op karton van sowat 2 cm by 2 cm te teken en ’n magneetjies agterop te plak. Hy kan dit versier. Maak ook ’n +-, -- en =-teken. As julle klaar is, kan julle yskassomme doen.
  • Speel verbind-die-kolle met prentjies wat nommers by het sodat hy die nommers in volgorde moet natrek. As hy sukkel, kan jy hom help, want hy sal nie dadelik al die nommers herken nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters