Juffrou praat reguit
skool

Graad R is nie meer net ’n bewaarskool waar kinders na hartelus kan speel, teken en rondhardloop nie. Vandag se graad R maak deel uit van die grondslagfase van laerskool waar ’n meer formele leerplan gevolg moet word, sê Ronél du Randt, ’n ervare graad R-juffrou en departementshoof vir die grondslagfase by die Laerskool Hennopspark in Pretoria.

“Vakke soos tale, wiskunde en lewensvaardighede word deel van jou kind se leefwêreld en elke vak het bepaalde doelwitte wat deur die loop van die jaar bereik moet word.”

Hierdie gedagte kan ouers dalk angstig laat voel, maar Ronél verduidelik dat graad R ’n uiters belangrike oorbruggingsjaar is tussen die sorgelose kleuterjare en die meer formele onderrigsituasie in die laerskool.

“Daar is meer reëls en ’n definitiewe roetine, maar die kind word met begrip, liefde en konsekwente toepassing van reëls geleidelik daaraan blootgestel. Hy kry steeds kans om te speel en te fantaseer, maar leer ook op ’n lekker manier die grondbeginsels van toekomstige akademiese vereistes.”

Nicola Vermeulen, sentrumhoof by die Pikkie Paradys-preprimêre skool in Bellville, en haar span van sewe graad R-onderwyseresse sê graad R is ’n baie belangrike jaar waar leerders skoolgereed en lewensgereed gemaak word. “Dis nie net ’n jaar van speel nie,” waarsku sy. Hoe help jy jou kind dus om die meeste uit hierdie belangrike jaar te haal?

Oor skoolgereedheid

Ouers het elke dag soveel geleenthede om by te dra tot die skoolgereedheid van hul kinders, sê Gretie Luyt, ’n ervare graad R-onderwyseres en grondslagfasehoof by die Laerskool Jan Celliers in Johannesburg. Sy, Ronél en Nicola het die volgende wenke vir ouers:

  • Moedig jou kind aan om selfstandig aan en uit te trek. Leer hom veters vasmaak.
  • Vestig goeie en vaste roetines by die huis. “Dit laat kinders geborge en veilig voel,” sê Nicola.
  • Leer jou kind om verantwoordelikheid vir sy besittings, takies en gedrag te aanvaar en gee hom verantwoordelikhede tuis soos werkies in die huis. Hy kan dalk help tafel dek of self sy bed opmaak.
  • Gee aandag aan emosionele groei sodat jou kind sy emosies leer verwoord.
    Ronél beskou emosionele ondersteuning as die grondslag van alle leerprosesse. “Leer kinders om hul gevoelens te herken, in woorde om te skakel en te rasionaliseer.” Gretie beveel die gebruik van stories met kleurryke illustrasies aan om kinders se kennis van woorde soos hartseer, jammer, ongelukkig en vrolik uit te brei. “Dit help dat jou kleuter later presies kan verwoord hoe hy voel of wat sy belewenis in ’n situasie was.”
  • Stel grense en wees konsekwent. “Kinders voel veilig binne struktuur,” sê Gretie. Ronél voeg by: “Bly by die reëls, al voel jy uitgeput en gedreineer. Die vrugte daarvan word later gepluk. Intrinsieke motivering word nie oornag aangeleer nie.”
  • Praat baie met jou kind. “Die daaglikse gesprekke tussen jou en jou kind help hom om te luister en te redeneer. As ’n kind die vermoë ontwikkel om te redeneer en oor dinge te dink, sal dit hom help om planne te beraam om probleme op te los,” sê Nicola.
  • Ontwikkel luistervaardighede en maak oogkontak tydens gesprekke. “Maak ook seker jou kind onderbreek nie ander se gesprekke nie. Gee gereeld verskillende opdragte en maak seker dat dit korrek uitgevoer word – sonder dat die opdrag ’n paar keer herhaal word. Speel ouditiewe geheuespeletjies,” sê Gretie.
  • Moedig taakvoltooiing aan en ontwikkel so deursettingsvermoë. “Dit begin reeds in die vroeë kinderjare: Kinders mag eers gaan speel as hul huiswerk klaar is, moet vasbyt, volhou en take voltooi met die ondersteuning van ouers,” sê Ronél.
  • Gee baie geleentheid vir klim en klouter, hardloop, speel, springtou spring en balanseer- en balspeletjies. Dit ontwikkel die groot spiere.
  • Skep geleentheid vir fyn motoriese ontwikkeling deur te knip en te teken. “Maak seker van korrekte lettervorming en potloodgreep as hy sy naam wil leer skryf,” beklemtoon Gretie.
  • Ontwikkel sy tydsbegrip. Leer hom die dae van die week, sy eie verjaardagdatum, die maande, seisoene en die begrippe gister, vandag en môre.
  • Lees gereeld stories en laat jou kleuter dit terugvertel. So begin hy leer om inligting te verwerk.
  • Handhaaf goeie dissipline. “Moenie twee of drie keer praat nie; ’n kind moet weet mamma of pappa praat net een keer,” sê Nicola. Ronél beaam dit: “Kinders moet die eerste keer luister – nie eers as die desibels die hoogte inskiet nie.”
  • Gee daagliks aandag aan basiese vaardighede soos maniere, goeie gewoontes, goeie eetgewoontes en higiëne. Jý bly jou kind se primêre opvoeder, nie die skool, nasorg of oppasser nie.
  • Leer jou kind om respek vir homself, ander mense en speelgoed te hê.
  • Moedig nuuskierigheid en weetgierigheid aan. “Leer hom dink en redeneer,” sê Gretie, “maar ook dat ander se opinie gerespekteer moet word. Beantwoord sy vrae. Ons leef in ’n wonderlike tyd van inligting; leer jou kind dus om antwoorde in verskillende bronne te gaan soek soos boeke, tydskrifte en by oupas en oumas. Dis ’n belangrike vaardigheid wat later met doeltreffende studie sal help.”
  • Wees lief vir jou kind en verseker hom daagliks van jou liefde. “As hy ’n fout maak, kan jy hom reghelp deur te sê: ‘Ek is baie lief vir jou, maar ek hou niks van dit wat jy gedoen het nie,’ ” sê Nicola.

Oor vandag se kinders...

Tye het verander. Die graad R-kind van vandag verskil in vele opsigte van die voorskoolse kind van jare gelede. Ronél reken die hedendaagse graad R’e is die een geslag waar die student heel maklik hul leermeesters kan oortref.

“Hulle is goed ingelig, wêreldwys en het dikwels ’n uitmuntende algemene kennis. Tegnologie-gebruik is so natuurlik soos boomklim en speel in die sandput. Dis die nuwe karretjies enpoppe van ’n moderne geslag. Hierdie kinders absorbeer meer en is tot veel meer in staat as wat mense wil glo. Hul wêreld moet stimulerend en uitnodigend wees.”

Maar, sê Ronél, die ontploffing van tegnologie en die multisensoriese oorstimulasie in huise veroorsaak dikwels dat kinders se luistervaardighede afneem. “Dit duur dikwels lank om ouditief tot ’n kind deur te dring.”

Nicola beaam dit: “Leerders se luistervaardighede is baie sleg.” Sy sê nog ’n neiging is dat leerders baie gemengde taal gebruik vanweë die televisie en omdat ouers nie meer so op suiwer taal gesteld is nie.

Kinders se luistervaardighede en verwerking van inligting moet dus baie aandag geniet, sê Gretie. “Dis opvallend dat die kinders se taal minder goed ontwikkel. Dalk is gesprekke baie haastig of ouers klets dikwels elektronies.”

Ronél vind ook kinders se spraak is opmerklik swakker.

“Is daar moontlik te min tyd om in die huis te praat? Die tyd wat beskikbaar is, is wanneer mediagebruik deel word van die ontspansone.” Gretie ervaar ook dat kinders deesdae meer emosioneel is, maar sukkel om dit te verwoord.

Dit lyk soms of kinders se basiese goeie maniere en respek teenoor maats en volwassenes nie meer so vanselfsprekend is nie, voeg Nicola by.

“Kinders volg ’n voorbeeld, nie woorde nie. Hulle moet geleer word hoe om emosioneel intelligent op te tree.”

Gretie sê die kleinspan vandag toets toenemend grense en wil hul sin hê, dalk omdat die aantal gesagspersone in hul lewe vermeerder het.

“Au pairs hou die kleuters gelukkig om die ouers tevrede te stel. Dis belangrik om konsekwent te wees en au pairs leiding te gee.”

Vyf- of sesjariges wat in grootmensgeselskap grootword, hanteer volwassenes dikwels nie met die nodige respek nie omdat hulle nog nie tussen familiariteit en sosiale aanvaarbaarheid kan onderskei nie, sê Nicola.

“Hulle weet nog nie altyd hoe om hulleself te handhaaf en die streep te trek tussen oulike en die regte optrede nie.” Baie moderne kinders vind dit ook moeilik om sonder visuele prikkels te konsentreer, want hulle beleef en leef in ’n oorgestimuleerde wêreld, verduidelik Gretie. “Maak dus jou kleuter bewus van al haar sintuie.”

Ronél sê konsentrasie verswak omdat ’n mens dikwels nie hoef te konsentreer wanneer jy met televisie kyk en speletjietegnologie besig is nie.

“Dit word soms breinlose aktiwiteite. Dit word vir kinders moeiliker om net een ding te doen soos om hul potlood reg vas te hou en op die aktiwiteit voor hulle op die tafel te fokus.”

Ook liggaamlik is daar verskille. Nicola sê hulle ervaar dat hoewel leerders baie aktief is, hulle nie fiks is nie. “Hul uithouvermoë ly daaronder. Omdat hulle nie meer so baie buite speel, boomklim en hul groot spiere ontwikkel nie, sukkel baie leerders met lae spiertonus.”

Ronél sê elke jaar met hul graad Ratletiekbyeenkoms is dit opmerklik dat die klein lyfies wat daar hardloop se motoriese ontwikkeling swakker daaraan toe is.

“Die redes is voor die hand liggend. ‘Speel’ het ’n ander dimensie aangeneem vir kinders wat tot laat in naskole moet bly of wat tuis agter slot en grendel moet leef. Ouers moet reël en betaal dat hul kinders meer en doeltreffend beweeg. Kinders kan lees en skryf wanneer hulle skool toe gaan, maar moet op agt jaar arbeidsterapie kry omdat hulle nooit gekruip en die wêreld sensories deur spel en beweging ervaar het nie.”

Anders as wat baie mense dink is die meeste kinders egter nie oorgewig nie, sê sy. “Ouers is nogal gesteld op die gesondheid van hul kinders.”

Help jou kind só

Navorsing het gewys dat denke die bedrading van die brein kan verander, sê Ronél.

“Dit wat jy vir jou kind van homself leer, is wat hy gaan word. Dit is belangrik om dié kennis te gebruik om jou kind se selfvertroue te bou. Kinders moet op ’n positiewe manier geïnspireer, geleer en aangemoedig word. Moet jou kind nie ophemel nie – wys liewer op sy positiewe karaktertrekke.”

Ronél reken die boek Maak ’n kopskuif deur dr. Caroline Leaf is ’n moet-lees vir ouers.

“Kinders wat heeldag afgekraak, verneder en selfs mishandel word, kan op geen manier maklik uitstyg nie. Kinders moet weet dat hulle tot baie in staat is, dat daar ’n wêreld van kennis en potensiaal in hulle opgesluit lê en hul ouers moet hulle help om dit stap vir stap te ontsluit deur positiewe hantering. Opvoeding is breinspoeling! Kinders moet weet hul mening is belangrik en dat hulle dit enige tyd kan lug, maar op ’n aanvaarbare manier.”

Die beste manier waarop ouers hul graad R’e kan ondersteun, is deur gesprekke met die onderwyseres, sê Gretie.

“Weet wat in jou kind se dag aangaan. Help met takies wat hy moet uitvoer, maar moet dit nooit vír hom doen of agterna oordoen nie – dit laat jou kind voel sy eie poging is nie goed genoeg nie.”

Nicola en haar span graad R-onnies sê ouerbetrokkenheid is van die uiterste belang.

“Ouers moet die briewe van die skool af gereeld lees om op hoogte te bly van waarmee hul kind besig is, wat geassesseer word, waarna hulle moet oplet, wat hul kind skool toe moet bring of wat hy tuis moet doen.”

Nicola beklemtoon dat ouers te alle tye betrokke moet wees by hul kind se opvoeding. “Al werk jy, wees daar vir jou kind. Naweke is ideaal vir ekstra aandag.”

En, sê sy, ouers moet die kroon op die onderwyseres se kop hou, al hou hulle nie van haar nie. “Neem die onderwyseres se hand en gee goeie samewerking, want dit gaan tog oor die kleinding en nie oor die volwassenes nie.”

Sy sê dis belangrik om met die onderwyseres te praat as jy onseker is. “ ’n Gekwalifiseerde graad R-onderwyseres
beskik oor die vaardighede om ouers by te staan. As sy onseker is, is daar baie terapeute wat geraadpleeg kan word.”

Om te hoor dat jou kind met iets sukkel is vir alle ouers traumaties, sê Nicola.

“Dit help jou kind baie as jy luister en ernstig optree wanneer die onderwyseres probleme uitwys. Dit geen jou kind ’n voorsprong eerder as ’n agterstand.”

Ronél beaam dit: “Moenie skroom om
professionele hulp in te roep nie. Die
mening van ’n deskundige kan ’n kind
se wêreld positief verander. Dis dikwels
nodig om ’n professionele persoon te
gebruik om die boublokke van ontwikkeling
op neurologiese vlak op standaard te
help ontwikkel sodat die kind kan leer.

“ ’n Kind wat werklik ’n serotonientekort
het en nie sonder medikasie vir
aandaggebrek kan werk nie, kan oornag
in ’n held verander omdat die middels
hom toelaat om normaal te funksioneer.

As kinders nie normaal kan presteer nie,
word hulle selfbeeld ál swakker en hulle
glo ál minder in hul vermoëns.”

Op ’n praktiese vlak sê Nicola en haar
span dit is belangrik dat ouers sorg dat
hul kinders altyd stiptelik by die skool
aankom.

“As ’n kind laat kom, word hy blootgestel
en begin sy dag verkeerd.”

En bou elke dag aan jou kind se selfbeeld,
sê Nicola, want dit gaan bepaal of
hy die selfvertroue het om die lewe aan
te pak.

“As jy iets belowe het, kom dit na. Dit
bou ’n goeie vertrouensverhouding.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
8 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters