’n Eksie-perfeksie kleuterskool

Dis moeilik om te glo, maar jou kind is oud genoeg om kleuterskool toe te gaan. Al is dit net vir ’n paar dae per week, voel dit soos ’n groot stap vir so ’n klein japsnoet. En dit is ook – in die kleuterskool word boustene gelê wat later van onskatbare waarde sal wees. Ons het ’n lys saamgestel van alles waarna jy moet oplet voor jy ’n skooltjie kies om te verseker dat kleuterskool toe gaan iets word waarna julle albei elke dag uitsien.

Voor jy besluit na watter kleuterskool jy jou kleintjie gaan stuur, behoort jy eers ’n hele paar skole in die buurt te besoek sodat jy namens jou kind die beste plek vir hom kan kies.

Besluit vooraf wat vir jou belangrik is. Dink aan dinge soos voertaal, metode van dissiplinering en die geestelike oortuigings wat by die skool toegepas word. Wat is die hoofrede waarom jy jou kind kleuterskool toe wil stuur? Is dit omdat boeta verveeld is by die huis en stimulasie nodig het? Of wil jy eenvoudig hê die outjie moet tussen maatjies wees? Stuur jy hom dalk skool toe met die oog daarop dat hy skoolgereed raak?

Onthou, kleuterskole kan jou deesdae ’n hele paar rand uit die sak jaag (die swakkes ook) en dis jou volste reg om aan te dring op waarde vir jou geld. Boonop moet jy onthou dat jou kind se kleuterjare sy vormingsjare is. Hy gaan van die heel belangrikste jare van sy lewe in die kleuterskool deurbring en dis waarom jy dubbel seker moet maak dat jou kind in goeie hande is.
Besluit vooraf of jy verkies dat die skool na aan jou werk of jou huis moet te wees. Wie gaan vir boeta vat en gaan haal? ’n Goeie skool naby jou huis behoort voorkeur te geniet.

Vyf dae ’n week...

Jy wil dalk aanvanklik jou driejarige kleutertjie net een of twee dae per week skool toe stuur sodat hy stelselmatig aan die nuwe omgewing gewoond kan raak, maar die skooljuffrou doen alles in haar vermoë om jou te oortuig dat dit langer gaan duur voor hy aanpas as hy nie al vyf weekdae daar deurbring nie.

Kenners sê dis onsin. As die juffrou reg was, moes jou kind eintlik sewe dae per week skoolgegaan het. ’n Driejarige kleintjie het in elk geval nog geen benul van dae en tyd nie.

“Hoe vinnig ’n kind aan sy nuwe omgewing gewoond raak, hang af van sy persoonlikheid en nie die aantal dae wat hy per week in die skool is nie. Natuurlik sal ’n juffrou jou probeer oortuig om jou kind meer gereeld skool toe te stuur, want dit beïnvloed haar geldsake,” sê Natasja Loubser, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg.

Baie skooltjies is bereid om jou kind vir net ’n paar dae per week te aanvaar. Soek die een wat bereid is om jou die meeste tegemoet te kom.

Die regte vrae

Hou gerus dié vrae in gedagte wanneer jy die kleuterskole op jou lysie ondersoek:

  • Hoeveel personeellede is daar en wat is hul kwalifikasies? Die personeel behoort goed opgelei en geesdriftig oor klein kindertjies te wees.
  • Hoeveel kinders per personeellid is daar? Die ideaal is ’n verhouding van een tot vyf vir kinders tussen twee en drie jaar oud en een tot sewe vir drie- en vierjariges. Vir kinders ouer as vyf is dit een tot vyftien.
  • Watter ouderdomsgroepe is saam in ’n klas? Die ouderdomsverskil behoort nie meer as twee jaar te wees nie. Daar is byvoorbeeld ’n reuse verskil tussen ’n driejarige en ’n vyfjarige se vaardighede.
  • Hoe lyk die skool se program of roetine? ’n Goeie kleuterskool het ’n daaglikse skedule waarvolgens sekere aktiwiteite uitgewerk is. Die meeste kinders floreer binne ’n voorspelbare struktuur en daar behoort genoeg tyd ingeruim te word vir fisieke aktiwiteite, storietyd, groep- en individuele aktiwiteite, maar ook vir vrye spel en alleentyd.
  • Het die skool ’n lisensie?
  • Wat is die beleid jeens siek kinders? Dis baie belangrik dat siek kinders nie toegelaat word nie, want dit kan veroorsaak dat jou hele huisgesin later siek is net omdat ouboet bose kieme van die skool af gebring het.
  • Hoe word dissipline toegepas? En voel jy gemaklik met dié metode? (Alle kleuterskole behoort ’n beleid hieroor te hê, juis omdat kinders op die een of ander manier moet leer dat verkeerde gedrag onaanvaarbaar is. ’n Kind wat byvoorbeeld maats byt, moet gestraf word.)
  • Het die skool ’n oopdeur-beleid – met ander woorde, mag ouers enige tyd van die dag sommer net besoek kom aflê? “Terwyl jy na die regte skooltjie soek, kan jy dalk onverwags opdaag en ’n bietjie waarneem. Jy sal ’n goeie idee kry van hoe dit regtig daar gaan. Word daar op die kinders geskree? Lyk hulle vrolik en ontspanne of onseker en onrustig? Is daar genoeg toesig binne en buite? En is die plek higiënies? Só ’n besoek kan jou sommer ’n idee gee van die veiligheid en sekuriteit. ’n Skooltjie waar jy helder oordag net kan inloop, behoort die rooi ligte te laat flikker,” sê Ragie Burger, ’n voormalige onderwyseres van Walvisbaai.
  • Hoe werk die vakansiestruktuur? Is die skool oop tydens skoolvakansies en is daar iemand wat smiddae na jou kind kan omsien as jy dalk ’n rukkie laat is?
  • Hoe gereeld sal jy ’n vorderingsverslag kry?
  • Vra of daar buiten die skoolfonds ook verpligte ander kostes bykom, soos Kindermusik-registrasie of uitstappiegeld.

Rooi ligte wat jy nie mag ignoreer nie

  • As die plek ’n swak reputasie het of jy negatiewe kommentaar oor die skool gehoor het. Praat met ander ouers en hoor wat is hul grootste irritasies en frustrasies.
  • Hoe praat die personeel met die kinders? Heers daar ’n gesindheid van wedersydse respek en liefde?
  • As jou kind ná ongeveer twee weke nog huil wanneer jy hom soggens gaan aflaai, behoort jy ondersoek in te stel.
  • As daar geen vaste reëls of ’n definitiewe program is nie. Dit werk nie om kinders “maar net besig te hou” nie.
  • As die personeel onderbetaal is en daar die laaste ruk ’n groot personeelomset was.
  • Vertrou jou instink en luister wat jou kind oor die plek en die juffrou sê!

Speelgoed en apparaat

By ’n kleuterskool is speelgoed en apparaat baie belangrik. Kyk ’n bietjie hierna:

  • Is die speelgoed van ’n goeie gehalte?
  • Is daar genoeg vir almal?
  • Is daar ’n wye verskeidenheid? Binne kan jy oplet na opvoedkundige speelgoed soos legkaarte, rygtoerusting, boeke en blokkies. Buite is klimapparate, swaaie, ’n sandput in die skaduwee, springtoue, balle en ’n balanseerbalk belangrik.
  • Is die speelgoed geskik vir die ouderdomsgroep?
  • Is daar spesifieke plekke vir lees, verf en vrye spel (soos karretjies, klei, fantasiespel)?
  • Is daar ’n musiekhoekie met instrumente of dalk ’n natuurhoekie?
  • Bied hulle bewegingspeletjies aan (balanseeroefeninge, balle, springtoue, boontjiesakkies, hoepels)?
  • Is daar kindervriendelike skêrtjies met ronde punte?
  • Is die apparaat buite veilig? Is dit opgerig op sement en stene, of op sagte sand of gras? Het die klimraam veiligheidsrelings? Staan die swaaie eenkant?

Baie dankie aan Ragie Burger, ’n voormalige kleuterskoolonderwyseres vir haar hulp met dié artikel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
4 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters