Ouers reageer op huiswerkartikel

'n Oud-onderwyser van Potchefstroom het 'n brief aan Beeld geskryf oor huiswerk wat te veel raak vir kinders. L.F. de Beer was 43 jaar in die onderwys en voel baie sterk dat klein kinders nie huiswerk moet kry nie. 

"My ervaring van 43 jaar in die onderwys, waarvan 23 jaar as hoof van ’n toplaerskool, is as volg: Selfs 30 minute huiswerk vir ’n gr. 1-, gr. 2- en gr. 3-leerling is te veel. Hulle behoort geen huiswerk te kry nie." 

Ons het die brief op ons Facebook-bladsy gedeel en vir julle gevra hoe julle hieroor voel. Hier's wat julle te sê gehad het:

Etritia Jordaan: "Daar word deesdae hopeloos te veel druk op kinders van 'n vroeë ouderdom af geplaas, dié dat van die kinders selfmoord pleeg omdat die druk te veel word. Sal goed wees as dit bietjie verlig kan word. Sulke jong kindertjies moet nog speel. Ek onthou my ouers het vertel dat hulle in graad 1 en 2 nog klei gespeel het en buite in 'n sandput. Kinders van vandag word ryp gedruk."

Akiela Ann Samson-Sebonka: "Ek is gelukkig om 'n ma en juffrou te wees. So huiswerk is geen probleem. Ek vra selfs ekstra werk aan as my seuntjie sukkel met van die werk. Dit is moeilik vir opvoeders om alleen verantwoordelik te wees vir ons bloedjies se leer. Dit begin regtigwaar by die huis. Die WKOD het pamflette wat raad gee hoe om ons kinders te help met huiswerk en hoeveel tyd spandeer moet word aan huiswerk vir elke graad. My seuntjie doen naweke ook "huiswerk" waar hy sinne moet skryf wat ons die dag gedoen het byvoorbeeld. Hy speel en kyk tv die meeste van die tyd maar 10 minute van daai tyd maak n groot verskil. Sterkte aan alle ouers en onderwysers met hul taak!"

Lizelle Klopper: "Ek stem saam, my meisiekind is in graad 1, sy kom half 3 by huis, eet, trek aan, dan is dit na 3 dan tel ons en lees alleen dit vat halfuur, dan moet ons in oefenboek patrone/woorde/somme ens doen, dis so uur, dan is dit die werkboek en intussen moet ek kos maak en na boeta kyk en hul moet bad voor pappa van werk af kom, soms is dit so baie dat ons 7 uur rustig raak."

Shani Swart: "'n Bietjie huiswerk is fine, maar hemel, die wiskunde wat hul deesdae moet doen, is ongelooflik moeilik vir hul ouderdom. My dogter is graad 3, en hul moet somme uit hul koppe doen, wat ek skaars uit my kop kan uitwerk!!!! Die druk is deesdae baie meer, en speeltyd ongelukkig minder. Weet sowaar nie hoe kan kinders met deesdae se leerplanne byhou as ouers nie by die huis help nie. G'n wonder ons agtergeblewe gemeenskappe se kinders verlaat vroeg die skool nie, want as ons selfs moet kophou, ondersteun, plakkate vir mondelinge en take moet help maak, navorsing oor ladybirds, naaldekokers, aansteeklike siektes, gesonde kos ens. ens. moet doen, hoe maak die arme kinders en hul ouers wat geen toegang tot hulpbronne het nie?"

Marlize Liesbet Labuschagne: "Fantastiese idee... wanneer jy nie die onderwyseres is wat 39 leerders in 'n tweedetaal hoef te onderrig nie... Die huiswerk sluit leesoefening in en verbeteringsoefeninge wat ek nie met die leerders kan doen wat dit nodig het nie. Ons wil almal hê wat die beste is vir die kinders. Onderwysers is nie hartelose monsters wat julle kinders wil weerhou van speel nie. Inteendeel, ek verpes dit dat ons kindertjies van so jonk af by lessenaars moet sit en leer, leer, leer. Ongelukkig wil ouers hê dat kinders akademies presteer en dit gaan so klein bietjie werk van julle kant af ook vat."

Chris en Jo-Ann Roodt: "Ek self 'n juf en glo om min tuiswerk te gee... kinders werk hard by skool en MOET speel. As ons saans van werk af kom is ons moeg... skool is hul werk. Hulle het sport in die middae ook. Ek glo dat ouers eerder huiswerk tyd moet gebruik om storieboekies saam met hul kind te lees op 'n genotvolle manier en dan die stories te bespreek. Dis leer, kwaliteit tyd en pret alles op een slag."

Hoe voel jy oor skole wat te veel huiswerk vir kinders gee? Stuur jou gedagtes aan web@babaenkleuter.co.za.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters