Speel veilig

Vir ’n ma is haar kind se veiligheid ononderhandelbaar.

Tog word geskat dat meer as 70 000 kinders in Suid-Afrika jaarliks op speelterreine en speelterreintoerusting beseer word. So sê Myles Wittstock, besturende direkteur van die Speelterreinveiligheidsinstituut van Suid-Afrika.

“Dit is moeilik om te sê hoeveel kinders permanent verlam of gestrem is of ernstige breinskade opdoen. Die Rooi Kruis-kinderhospitaal in Kaapstad hou al jare lank beseringstatistiek oor speelterreinverwante beserings, maar hierdie syfers weerspieël net die beserings van daardie streek. Daar is geen nasionale syfers vir speelterreinbeserings nie.”

Kinders móét waag

Om buite te speel op klimapparate, trampoliens en swaaie is ’n normale deel van kind wees en byna alle kinders is dol daaroor. Maar, sê Childsafe, ’n veldtog van die Kinderongeluksvoorkomingstigting van Suidelike Afrika: Terwyl buite speel ’n wonderlike manier is waarop kinders van hul energie ontslae kan raak, is daar altyd die gevaar van ongelukke.

“Kinders moet en wil kanse waag terwyl hulle speel. Dit is daarom belangrik dat hulle ’n stimulerende, uitdagende omgewing het waar hulle hul vermoëns kan ontdek en ontwikkel. Dit is egter ook belangrik dat hierdie omgewing van so ’n aard is dat kinders nie blootgestel word aan ’n onaanvaarbare risiko vir sterfte of ernstige besering nie.”

Jy mag jou kind nie van alle klimapparate, swaaie en ander gedoentes weghou om hom veilig te hou nie. Hy het dié dinge nodig om normaal te ontwikkel. Jy kan wel seker maak dat die speelapparaat by jou huis en by jou kind se kleuterskool so veilig moontlik is.

Maar waarna is ’n mens op die uitkyk as jy wil seker maak jou kind se skoolspeelterrein voldoen aan veiligheidstandaarde? Die Speelterreinveiligheidsinstituut het in 2010 saam met die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS) ’n komitee gevorm om veiligheidstandaarde vir speelterreine en speelterreintoerusting te ontwikkel. Dié standaarde het in 2011 verskyn.

As speelterreine aan dié vereistes voldoen, kan die gevaar van ernstige beserings en sterfte met tot 70 persent afneem, sê Myles. Hy gebruik die Engelse akroniem SAFE om die belangrikste aspekte van speelterreinveiligheid uiteen te sit:

S vir supervision

Toesig van kinders wat op die apparate op die speelterrein speel, is uiters belangrik. “Baie kindersorggeriewe laat toe dat die kinders sonder toesig op die toerusting speel, veral voor die skool begin of aan die einde van die dag, maar voldoende toesig is ononderhandelbaar. Maak verder seker dat daar genoeg personeel per individuele kind is.”

A vir Age-Appropriate

Dit is baie belangrik dat kinders op speelapparaat speel wat gepas is vir hul ouderdom. Myles verduidelik dat die meeste speelterreintoerusting in Suid-Afrika nie ouderdomstoepaslik is nie.

“Twee- tot vyfjariges het ’n baie ander liggaamsbou, balanskoördinasie, handoog-koördinasie en kognitiewe vaardighede as ses- tot 12-jariges. My navorsing en waarnemings het gewys dat slegs ’n paar kinders die ‘moeiliker’ speelterreintoerusting baasraak, terwyl die ander liefs in die sandput of op ander laerisiko-dele van die speelterrein speel.

“As ouderdomstoepaslike speelterreintoerusting verskaf word, ontwikkel kinders die vaardighede en selfvertroue om later toerusting te benut wat meer uitdagings bied.”

F vir Fall Surface

Die belangrikste veiligheidsvereiste vir enige speelterreintoerusting is dat die oppervlak waarop die kind kan val, sag is en impak verminder, sê Myles.

“Dit moet die impak van die kind absorbeer en so die erns van die besering verminder. ’n Impakveilige opper- vlak kan die verskil beteken tussen effense harsingskudding en ernstige breinbeserings.”

Die meeste ernstige breinbeserings of sterftes kom voor wanneer kinders van ’n speelapparaat afval en hul kop ’n harde oppervlak soos teer, sement, harde sand, harde gras of plaveisel tref.

“Geen van die voorafgaande is aanvaarbaar onder of naby speelterreintoerusting nie. Die veiligheidstandaard vereis dat enige speelterreintoerusting hoër as 60 cm van die grond af ’n valof impakveilige oppervlak onder en rondom moet hê wat strook met die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard 5177 vir impak-oppervlaktes,” sê Miles.

Wat is dus aanvaarbaar? Daar word deesdae spesiale veiligheidsmatte of rubberoppervlaktes vervaardig wat vir veiligheid onder speelterreintoerusting geplaas kan word. Jy kan die skoolhoof vra vir ’n sertifikaat wat wys dat hulle aan hierdie standaard voldoen.

“Die installeerder of verskaffer van die veiligheidsoppervlak moet ’n sertifikaat gee wat wys dat dit aan die SANS-standaard voldoen.”

Nie alle skole kan dit egter bekostig nie. Sagte seesand is ’n alternatief, maar onthou dat sand soms ná ’n reënbui baie hard kan word.

Oor die algemeen moet die sagte oppervlak ’n minimum van 2 meter aan alle kante van die klimapparaat strek en sowat 30 cm diep wees, afhangende van die materiaal wat gebruik word.

E vir Equipment Maintenance

Vra vir jou kind se kleuterskool hoe gereeld hulle hul speelapparaat laat nasien. Baie skole verf net aan die begin van die jaar hul strukture nuut sodat dit mooi lyk, maar hanteer nie die meer ernstige veiligheidsrisiko’s op die speelterrein nie, sê Myles.

“Hulle behoort nie te wag tot dit breek nie, maar behoort dit elke drie maande te laat nasien en daagliks te ondersoek voor hulle die kinders daarop laat speel.”

Kyk self hierna

Gaan doen self ondersoek van jou kind se skool se speelterrein. Kyk vanuit ’n kind se perspektief na die speelapparaat en wees op die uitkyk vir moontlike veiligheidsrisiko’s.

Jy kan ook die raad van ’n speelterreinveiligheidspesialis inwin. As jy ongemaklik oor iets voel, bespreek dit met die skoolhoof. Kyk onder meer na die volgende:

Toepaslikheid vir die aantal kinders: Myles sê dikwels gebruik kleuterskole toerusting wat eintlik bedoel is vir ’n huisomgewing waar nie meer as twee tot vier kinders op ’n slag daarop speel nie. “Hierdie strukture word dan in die kleuterskoolomgewing geplaas waar baie kinders terselfdertyd op die toerusting mag speel, hoewel dit nie ontwerp is vir so ’n swaar lading nie.”

Veilige uitleg: Dikwels het speelterreintoerusting te veel aktiwiteite soos swaaie, lere, brandweerpale en nette bymekaar, wat dit buitengewoon gevaarlik maak as baie kinders daarop speel, verduidelik Myles.

“Bewegende dele of speelterreintoerusting soos swaaie, hangringe en balke moet altyd apart van die klimraam wees. Kinders wat op klimapparate speel en op die struktuur rondbeweeg, bots dikwels met ander kinders op die swaaie of ringe op hierdie kombinasie-eenhede en dit kan tot ernstige beserings lei.”

Kyk ook hierna

  • Is daar ’n visdam of ander water waarin jou kind kan verdrink? Swembaddens moet te alle tye omhein wees met toegangsbeheer en ’n net bo-oor.
  • Is daar enige skroewe, spykers of moere wat uitstaan en ernstige snye of wonde kan veroorsaak?
  • Hang daar enige los toue of kettings waaraan ’n kind kan verwurg (soos met ’n stukkende swaai)?
  • As daar klimnette is, is die gaatjies klein genoeg om ’n kind se kop te keer sodat dit hom nie kan verwurg nie.
  • Word enige speelapparaat met draad of hegstroppies aan mekaar gehou?
  • Is die speelapparaat of klimapparaat naby ’n palisadeheining of enige ander heining met skerp punte waarop ’n kind kan val?
  • Is die speelapparaat naby ’n glasvenster waarteen ’n kind kan val?
  • Is die speelapparaat naby ’n elektriese punt of elektriese kabels wat ’n gevaar kan inhou?
  • Is daar losstaande voorwerpe waaroor jou kind kan val, soos klippe, houtpale, lae boomstompe of takke, metaalpale, boomwortels, stene of die fondament van die klimapparaat?
  • Is al die speelterreintoerusting goed geanker sodat dit nie kan omval nie?
  • Is die swaaie hard en hoekig, of is dit sag en gerond?

Die gevaarlikste toerusting

Volgens Myles is hanglere (monkey bars) die gevaarlikste speelterreintoerusting vir twee- tot vyfjariges en word dit in baie lande verbied.

“Daar word geredeneer dat dit belangrik is vir die ontwikkeling van bolyfspiere, maar daar is baie ander maniere om dit te versterk. Hanglere kan ’n ontwikkelende kind se spiere en ligamente te veel strek. Dit is geskik vir ouer, meer ontwikkelde kinders, maar is nie toepaslik vir twee- tot vyfjariges nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters