5 Moets & moenies van swangerskap

Die moets:

  •  Geen aspirien

n Normale dosis aspirien kan ernstige gevare vir ’n ma en ongebore baba inhou. Van dié gevare kan eers met die geboorte duidelik word, wanneer kwaai komplikasies met die ma se bloedvloei kan intree. As aspirien naby die einde van die swangerskap geneem word, kan dit die hormone inperk wat die geboorteproses stimuleer en só die swangerskap verleng of die geboorte vertraag.

Daar is ook studies wat bewys het dat die gebruik van aspirien tydens bevrugting of vroeë swangerskap kan die kans op ’n mis-kraam verhoog. Aspirien is ook al die skuld gegee vir ’n plasenta wat skeur.
Ander medisyne wat gevaarlik kan wees tydens swangerskap is dié met ’n anti-inflammatoriese komponent soos ibuprofeen en sekere soorte antibiotika.

GRYS GEBIED: Daar is wel goeie redes waarom ’n dokter ’n baie lae dosis aspirien kan voorskryf, maar dit is vir spesifieke toestande soos kwaai diabetes, preëklampsie en nierprobleme.

  • Moenie op jou rug slaap nie

Wanneer jy op jou rug slaap, kan die druk op jou liggaam ’n baie belangrike aar, die inferior vena cava, toedruk. Hierdie aar bring bloed van jou bene terug na jou hart toe en as dit toegedruk word, beteken dit die bloedsomloop na jou baarmoeder en dus die fetus word beperk. Jy moet veral probeer om nie in jou derde trimester op jou rug te slaap nie, want dan is jou baarmoeder swaarder en die druk op jou are soveel meer as jy te lank op jou rug lê.

'n Rugslapery kan ook rugpyn veroorsaak, asemhaling bemoeilik en tot lighoofdigheid lei.
Pleks van op jou rug kan jy liewer op jou sy lê met jou bene opgetrek. Die heel beste posisie is op jou linkersy, want só vind die meeste bloedvloei na jou baarmoeder en die fetus plaas.

  • Moenie ‘n dieet aanpak nie

 ... maar moet ook nie vir twee eet nie!

Ja, jy gaan gewig optel – maar jy kan die oortollige vetjies maklik ná die geboorte danksy borsvoeding en met ’n dieet afskud. As jy tydens jou swangerskap op ’n dieet is, loop jou ongebore baba die gevaar om te min van die voedingstowwe te kry wat hy so bitter nodig het om te ontwikkel. Swangerskapsdiëte het al die skuld gekry vir van lae geboortegewig tot geboorte-afwykings soos ’n brein en ruggraat wat nie ten volle ontwikkel het nie.

Eet genoeg vars groente en vrugte, volgraanbrood, omega 3-verrykte eiers, laevet-melkprodukte en kry hope vitamiene in sodat jy ’n gesonde gewigstoename kan handhaaf. Eet gesonder en beperk ongesonde gewoontes, soos te veel suiker.


GRYS GEBIED:
Sommige oorgewig vroue word wel aangeraai om op ’n dieet te gaan wanneer hulle swanger raak, maar dit mag net onder die toesig en leiding van ’n dokter gebeur.

  •  Moenie (sommer) x-strale laat neem nie

Die neem van X-strale tydens swangerskap is nog baie omstrede. Verskillende studies gee verskillende riglyne oor die uitwerking van X-strale op die fetus, en jy moet dit dus liewer vermy.

Hoewel meeste bronne sê die risiko vir ’n fetus is baie skraal, kan X-strale moontlik lei tot komplikasies met die groei en ontwikkeling van die fetus asook siektes, soos sekere soorte kanker, in die kinderjare.
n Onlangse studie in Amerika het getoon dat ’n swanger vrou van wie se tande X-strale geneem word, se baba ’n drie keer groter kans het op ’n lae geboortegewig.

GRYS GEBIED: Daar is ook erkende navorsing wat beweer X-strale van die mond hou bitter min gevaar vir die fetus in. Daar is ook ’n siening dat ’n lae dosis bestraling geen skade aan die fetus aanrig nie en dat veral X-strale van die kop, arms, bene en borskas van die ma veilig is omdat dit nie die fetus bereik nie.

X-strale kan wel noodsaaklik wees vir die gesondheid of selfs oorlewing van ’n swanger vrou, soos ná ’n motorongeluk. As jou dokter aandring dat jy X-strale laat neem, sal spesiale maatreëls getref word om die fetus te beskerm.

  • Moenie rook, drink of dwelms gebruik nie

Die meeste van jou ongebore baba se organe en liggaamstelsels word in die eerste 10 weke van swangerskap gevorm en daarom behoort dwelms, sigarette en alkohol ’n groot taboe te wees terwyl jy swanger is.

Dwelmgebruik, rook en alkoholmisbruik is nie net sleg vir jou eie gesondheid nie, maar kan die baba se groei en ontwikkeling ondermyn en soms onomkeerbare skade aanrig.

Geboorte-afwykings wat veral met alkoholmisbruik tydens swangerskap verbind word, sluit in abnormale ontwikkeling, hart-afwykings en in die geval van hewige misbruik, verstandelike gestremdheid.

As jy dwelms gebruik terwyl jy swanger is, kan dit jou ongebore baba se organe beskadig, inmeng met haar normale groei en ontwikkeling, haar senuweestelsel aantas en jou kans op ’n miskraam verhoog.

Sigaretrook word beskou as ’n oorsaak van baie miskrame, vroeë geboortes en beperkte groei van die fetus. Die fetus het suurstof nodig om te kan groei en wanneer jy rook, word jou longe se vermoë om suurstof op te neem en aan die fetus te gee, beperk. Daarom sê kenners swanger vroue wat rook, se babas kan uiteindelik stadiger in die baarmoeder groei as dié wie se ma nie rook nie.

GRYS GEBIED: Die meeste mense stem saam dat dwelmgebruik en rook taboe is vir swangeres, maar baie swanger vroue voel dis aanvaarbaar om af en toe ’n glasie wyn te drink. Maar omdat die uitwerking van selfs klein hoeveelhede alkohol nie met sekerheid vasgestel kan word nie, is dit veiliger om daarvan weg te bly.

En nou vir die moets

Vra jou dokter: Skryf al jou vrae neer en neem dit saam na jou doktersbesoeke. Moenie skaam wees om dit te vra nie, veral as dit jou eerste swangerskap is.

Foliensuur: Kry genoeg foliensuur in omdat dit help met die groei en ontwikkeling van jou baba. Dit kan ook geboorte-afwykings soos spina bifida voorkom.

Voorgeboorteklasse: Woon voorgeboorteklasse by om julle voor te berei op die geboorte, borsvoeding en versorging van die baba ná die geboorte.

Noodhulp: Volg ’n KPR- en noodhulpkursus sodat jy die nodige kennis, en selfvertroue het om op te tree in noodsituasies, veral by die huis met die nuwe baba.

Hou boek: Neem baie foto’s en hou dagboek van jou swangerskap sodat jy dit eendag saam met jou kleinding kan herleef.    

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters