8 verrassende feite oor swangerskap
swangerskap

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Maart 2016) 

1. JOU HART WORD GROTER 

As jy ’n broodjie in die oondjie het, moet jou hart baie harder werk en daarom groei hy. Jou hart klop ook vinniger as gevolg van die verhoogde volume bloed (30 persent meer) in jou liggaam. 

2. JOU HARE VAL UIT NÁ DIE GEBOORTE 

Hope estrogeen tydens jou swangerskap sorg dat jou hare nie soos normaalweg uitval nie. Net as jy dink alles keer weer terug na normaal na jou baba se geboorte, begin jou hare uitval – gewoonlik wanneer jou baba omtrent vier maande oud is. Jy sal in hierdie tyd meer hare op jou borsel en op jou kussing opmerk. 

3. JY DRA ’N GROTER SKOEN 

Miskien is jy lus vir nuwe skoene terwyl jy swanger is, maar los dit liewer! Die hormoon relaksien maak die ligamente in jou voete los en saam met jou groter liggaamsgewig maak dit die brug van jou voete platter. Die gevolg: Jou voete is ’n bietjie langer en breër is. 

4. JOU MAAT BEGIN WYS 

Mans kan swangerskapsimptome ervaar, soos moeg voel, ’n magie kry en selfs buierig voorkom. Dit gebeur gewoonlik teen die einde van jou eerste trimester en duur tot jy die lewe skenk. 

5. JOU LIBIDO SKIET DIE HOOGTES IN 

As gevolg van die ekstra bloedvloei na jou onderlyf is dit heel moontlik dat jy in jou swangerskap heel wellustig kan voel! 

6. TOE NIE OGGENDNAARHEID NIE 

Die slegte nuus is dat jy eintlik die hele dag, veral in die aand, naar kan wees. Dit begin gewoonlik teen ses weke wanneer jou hormone inskop. Eers wanneer die tweede trimester aanmeld en jou plasenta oorneem, begin die naarheid (meestal) verdwyn.

7. JY EET NIE VIR TWEE NIE 

Jy kan so af en toe ’n tweede skeppie geniet, maar jy moet eintlik nie vir twee eet nie. As jy jou swangerskap met ’n gesonde gewig en LMI begin het, is jy veronderstel om slegs 1 200 kilojoules ekstra per dag in te neem. 

8. MENSE IS GAAF 

Jy gaan voor in die ry plek kry. Almal vra hoe dit met jou gaan en jy word toegegooi onder geskenke vir jou en baba. Dit waai gewoonlik oor wanneer jou baba gebore word, maar gelukkig maak jy intussen nuwe ma-vriende! 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters