Pa in die kraamsaal
kraam

In die ou dae was ’n geboorte iets wat geheimsinnig agter geslote kraamsaaldeure plaasgevind het terwyl Pa buite heen en weer geloop het. Deesdae dring moderne mans (en die gemeenskap) daarop aan om by te wees wanneer hul baba in die wêreld gebring word om emosionele en praktiese ondersteuning aan Ma te verleen. Maar nou het ’n Britse studie die jakkals in die hoenderhok gegooi en gewys pa’s is dikwels meer van ’n las as ’n vreug in die kraamsaal...

Millenium-mans wil van die eerste oomblik af deel van hul baba se geboorte wees, maar volgens nuwe Britse navorsing is hulle meer in die pad as iets anders en moet hulle liewer ver van die kraamsaal af bly.?? Meer as die helfte van duisend ma’s wat vir die Britse studie ondervra is, het gekla dat hul mans van min of geen waarde tydens die geboorte was nie.

Hoe voel Suid-Afrikaanse vroue hieroor: moet pa’s skuldig voel as hulle nie die geboorte wil bywoon nie, en wat kan hulle doen om hul vrou van meer hulp te wees?

Waar lê die knoop?

Die irritasie van die vroue in die studie kan daaruit spruit dat sommige pa’s – en veral nuwes – nie werklik voorbereid is op wat in die kraamsaal op hulle wag nie. Om iemand vir wie jy baie lief is in kwaai pyn te sien, soms vir ure aaneen, eis uiteindelik sy tol van ’n maat. ??Pa’s moet dus presies weet wat in die kraamsaal van hulle verwag word sodat hulle Ma kan kalmeer pleks van haar irriteer.

Een manier om dit reg te kry, is om voorgeboorteklasse by te woon. “Voor ons eersteling se geboorte was ons albei by dié klasse en ek het dus ’n taamlike idee gehad wat van my verwag sou word,” vertel Frikkie Swanepoel van Vereeniging, ’n pa van twee. ??Hy was by albei geboortes (al twee keisersneë) aan sy vrou, Marli, se sy, en sê dit was ’n wonderlike ervaring en die uiteindelike geboortes was ’n spanpoging.

“Aanvanklik het ek maar min selfvertroue gehad,” bieg hy. “Veral met die eerste kind was ek taamlik senuweeagtig omdat die geboorteproses, kraamafdelings en ouerskap onbekende terrein was. Boonop is ek iemand wat bewerig raak wanneer ek bloed sien, maar ek het deurgedruk – om Marli sowel as die kinders se onthalwe.”

Marli vertel dat sy haar dit nie kan indink dat Frikkie nie saam met haar moes wees nie. “Dit was wonderlik,” vertel sy. “Veral die eerste keer weet ’n mens nie wat om te verwag nie en sy teenwoordigheid het my baie kalmer gemaak. Om ons baba se eerste skreeu te kon hoor, was ’n besonderse ervaring en ek is bly dat ek dit met my man kon deel. Ek kan nie glo dat daar ’n tyd was dat mans nie in die kraamsaal of teater toegelaat is nie.”

‘Mans moenie sleg voel as hulle nie kans sien vir die kraamsaal nie’

Volgens Armin Brott, ’n Amerikaanse skrywer van 6 topverkopers oor vaderskap, word ’n man wat deesdae nie deel van sy kind se geboorte wil wees nie as ’n onsensitiewe Neanderdaller beskou.

In ’n e-posonderhoud met Baba&Kleuter sê Armin: “Dis alles goed en wel dat tye so verander het om pa’s geheel en al in te sluit, maar daar is ’n verskil tussen die aanmoediging van ’n pa en om hom onder ’n verpligting te plaas om iets te doen waarmee hy dalk nie heeltemal gemaklik is nie.

“Sommige mans stel net nie soveel belang om te sien hoe hul kinders gebore word nie en ’n kraamsaal is die heel laaste plek waar hulle hulle wil bevind.”

“My eerste man was hopeloos in die kraamsaal, hoofsaaklik omdat hy niks wou doen nie,” onthou Sandra Odendaal*. “Hy wou buite die hospitaal staan en rook en wag tot alles verby was. En toe wou hy glad nie eens sy dogtertjie vashou nie. Dit het my bitterlik ontstel.”

Armin reken daar is verskeie redes waarom ’n amperpa nie die hele tyd in ’n kraamsaal wil bly nie. “Miskien is hy die soort ou wat nie bloed kan verdra nie. Of dalk het hy geskrik tydens die besprekings en video’s in die voorgeboorteklasse. Hy kan ook bang wees dat hy nie genoeg steun aan sy maat sal kan gee nie en dan veroorsaak hy vir haar nóg meer stres.”

Hoewel haar man streng gesproke maar net haar hand vasgehou het vir die duur van die geboortes, glo Ronél Cilliers van Klerksdorp nie dat sy op daardie oomblik alleen sou kon wees nie.

“Hy het darem sy bes probeer om my te ondersteun, maar sommige mans is maar net onbeholpe gebore,” sê sy. “Hulle lees of hoor iewers dat die man ’n vrou se rug moet vryf omdat dit die kraampyne kwansuis verlig, maar dit werk nie regtig so nie. Danie het maar net saam met my vir die groot oomblik gewag.”

Vorm dit ’n sterker band met vrou en kind in die kraamsaal?

“Vir die oomblik van die geboorte en kort daarna het dit gevoel asof ek en Danie baie nader aan mekaar is, maar dan gaan die lewe mos maar weer sy normale gang,” vertel Ronél. “Onthou, dit is ’n baie groot emosionele oomblik wanneer jy ná 9 maande uiteindelik jou baba die eerste keer sien. Dit maak dus nie saak of julle 5 minute voor die teatertyd woorde gehad het of nie. Die oomblik bly groot.”

Vir Frikkie voel dit asof daar miskien tog ’n stewiger pa-kind-band tussen hom en sy seuns gevestig is. “Elke goeie herinnering, soos daardie eerste oomblikke van ’n kind se lewe, help mee om ’n stewiger band tussen ouer en kind te vestig. Ek voel dit beslis met my seuns. En dat ek deel van die geboortes was, het ongetwyfeld die hegte band tussen my en Marli verstewig.”

Ronél meen weer dit is nie eintlik nodig dat ’n pa die geboorte moet beleef om vir sy kinders lief te wees nie. “As ’n pa op enige manier by sy kinders betrokke is, sal daar ’n sterk band tussen hulle wees.”

‘Dit het beslis my band met my seuns en my vrou verstewig.’

Sandra se man was egter heeltemal ongeërg oor die hele geboorteproses en alles wat daarna gekom het. “Hy wou nie betrokke wees nie en dit blyk uit sy algemene verhouding met sy kinders ook. Hy moes eintlik nooit ’n pa gewees het nie – daar is min wat die band tussen hom en sy kinders kan versterk.”

Vir pa’s wat nog wonder oor die kraamsaalondervinding, het Armin raad: “Moenie soos ’n mislukking voel as jy nie heeltemal geesdriftig daaroor is nie; dis heeltemal normaal. Minstens die helfte van alle pa’s het bedenkinge daaroor om by die geboorteproses betrokke te wees.”Kraamsaal-wenke vir pa’s

Wees ingelig- Woon voorgeboorteklasse by, lees ’n boek daaroor of gesels met ’n vroedvrou of ginekoloog. Hoe meer jy weet, hoe gemakliker sal jy met die hele proses wees.

Vind uit presies wat jy moet doen- Gesels met jou maat sodat jy weet wat sy van jou verwag.

Ontspan- Dit maak nie saak hoe senuweeagtig jy is of hoe grillerig jy dit vind nie – die kans is baie skraal dat jy die proses nie sal kan hanteer nie. Statistiek wys dat die meerderheid amperpa’s kalm en gefokus bly.

Kry bykomende ondersteuning- As jy reken jy gaan nie die mas opkom nie, kan jy een van jou vrou se susters of vriendinne inspan om jóú te ondersteun.

Gesels met ander pa’s- Bestee genoeg tyd saam met ander mans wat al deur die meule is. Hulle sal jou goeie raad kan gee. 

Dink jy pa's behoort in die kraam saal? stuur ons 'n epos met jou storiesweb@babaenkleuter.co.za Ons publiseer graag jou reaksie, Laat weet as jy anoniem wil bly. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters