Weer jou ou self
swangerskap en jou liggaam

Daar gebeur ‘n magdom dinge in jou lyf oomblikke nadat jou baba gebore word. Dis amper net so fassinerend soos jou swangerskap, maar dié veranderinge kry gewoonlik maar min aandag, want jy is dan so besig met jou nuwe baba. Dis egter belangrik dat jy verstaan waardeur jou liggaam nou gaan. Hier is wat jy moet weet:

Baarmoeder

Jou baarmoeder, wat sowat 1kg weeg, krimp byna dadelik tot die grootte wat dit op 20 weke was, en elke dag krimp dit nog ’n bietjie verder. Ses weke later weeg dit weer 100 g of minder.

Jy sal in die eerste twee weke dalk bewus wees van die krampe want dit kan ’n bietjie seer wees, veral wanneer jy borsvoed. Help die krimpingsproses aan deur jou maag liggies ná die geboorte te masseer.

Bloeding

Of jy nou gekraam of gekeiser het, jy sal bloei in die eerste weke ná die geboorte. Dié bloeding – die kraamvloed – is op sy swaarste in die eerste paar dae. Hou maar ekstra absorberende doekies byderhand, want tampons word nie nou toegelaat nie.

Van dag drie tot 12 neem die helderrooi bloeding af en word dit minder en ook rooibruin en later gelerig. Dit klaar gewoonlik ná vyf weke heeltemal op, en in baie gevalle sommer vroeër ook. Dit moet nooit sleg ruik nie. As jy enigsins iets ruik, gaan dokter toe, want dit kan op ’n infeksie dui.

Serviks, vagina en perineum 

Die herstelproses begin onmiddellik ná die geboorte. Jou serviks maak geleidelik toe en jou geswelde privaat dele begin herstel. Die vulva, vagina en perineum kan geswel en blou wees, maar dit sal geleidelik verbeter en teen drie weke weer heeltemal normaal lyk.

Die vagina kan nog sensitief wees, maar klein skeurtjies sal binne 10 dae genees. Jou perineumspier sal teen ses weke weer normaal wees.

As jy ’n episiotomie gehad het, of geskeur het sodat jy steke moes kry, kan jy vir langer ná die geboorte seer wees. Pynstillers kan help, en skaf gerus ’n rubberring aan om op te sit. Bad gereeld in gesoute water.

Urienstelsel

Baie vroue sukkel om in die eerste 24 uur ná die geboorte te urineer omdat pyn jou die urine kan laat terughou. Ander vroue sal weer sukkel om te knyp, veral as hulle nies of hoes. Die bietjies-bietjies lek sal egter gou verbeter, en jy kan dit aanhelp deur bekkenspieroefeninge te doen.

Spysvertering

Winderigheid kan ’n probleem wees, veral ná ’n keisersnee. Jy sal gevra word oor of jy al ’n stoelgang gehad het. Dis normaal om vir tot vyf dae ná die geboorte nie ’n stoelgang te hê nie, aangesien die dermkanaal geledig word voor of tydens die geboorte.

As jy hardlywig is, kan jy dit teenwerk deur veselryke kos te eet en genoeg water te drink, of gebruik ’n stoelgangversagter soos Duphalac. Aambeie kom algemeen voor by vroue wat gekraam het, maar verdwyn meestal ná ’n paar weke. As jy egter sukkel, vra jou dokter se hulp.

Jou gemoed

Vroue kry tipies teen die derde dag bababloute, wanneer enigiets van ’n doek wat skeeflê tot hul baba se gesig hulle laat huil. Dit gaan egter gou verby. Sowat 10 persent van vroue kry nageboortelike depressie, en dit gaan nie gou of vanself verby nie. Praat met jou dokter as jy aanhoudend goor voel.

Jou voorkoms

Die swangerskapsvlekke op jou gesig en die bruin streep op jou maag word ligter, maar jou tepels sal donkerder bly as wat dit voor die swangerskap was. Rekmerke verdwyn nooit heeltemal nie, maar word mettertyd minder opvallend.

Jou maagvel sal nog verskeie weke, en selfs maande lank, sag, verkreukel en pap voorkom. Oefening kan baie hiermee help. Jou maagspiere is ook ná geboorte geskei en sal nie so sterk wees soos voorheen nie. Met oefening kan dit egter herstel.

Reg vir seks?

As julle romanties voel, is dit nie nodig om die volle ses weke te wag nie, maar moenie vir ’n oomblik sleg voel as jy teen ses weke eintlik nog glad nie wil laat waai nie. Jou lyf is immers deur reuse aanpassing, wat nog te sê jou gemoed.

Onthou egter... voorbehoeding is drie weke ná die geboorte nodig, want ovulasie kan binne 27 dae plaasvind. Al is dit die laaste ding in jou gedagtes, moet jy tog ’n voorbehoedingskeuse maak. Jy kán swanger raak, al borsvoed jy.

Jy kan nie die kombinasievoorbehoedpil gebruik in die eerste ses weke ná die geboorte nie omdat dit die gevaar van bloedklontvorming vergroot en dit ook inmeng met borsvoeding. Vra jou dokter oor die minipil wat slegs progesteroon bevat.

Jy kan nie ’n binnebaarmoedertoestel laat insit voor ses weke ná die bevalling nie.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters