Blus die brand

Net sowat 20 persent van swanger vroue spring sooibrand vry. Die res van ons sukkel maar met die hinderlike ongemaklikheid, ’n newe-effek van al die hormone wat so woes in jou liggaam aan die werk is. Dié hormone laat al die sagte spiere in jou liggaam verslap, die spiere van jou spysverteringskanaal inkluis.

As gevolg daarvan beweeg kos stadig deur die maag en dit veroorsaak dat maagsure in die slukderm opstoot. Die gevolg: ’n brandende gevoel op jou bors. Die toestand kan verder vererger word omdat jou baba en baarmoeder uitsit, dit jou maag boontoe druk en vasdruk, en dit alles jou vertering in die proses nog stadiger maak.

’n Mens kry meestal sooibrand nadat jy geëet het. Soms beweeg die kos selfs in jou keel op tot in jou mond, waar dit ’n aaklige smaak laat.

Dis ook meer algemeen wanneer jy lê of wanneer jy vorentoe buk en die drukking op jou maag dus toeneem. Veeleisende take soos die optel van voorwerpe of hoes kan dieselfde reaksie ontlok.

Wat veroorsaak sooibrand?

Een van die sondaars is die hormoon progesteroon, wat daarvoor verant- woordelik is om die sagte spiere in jou baarmoeder te laat verslap. Die klep wat die slukderm en die maag skei, verslap terselfdertyd, met die gevolg dat maagsure in die sluk- derm opbeweeg en jy sooibrand kry.

Goeie raad

  • ¬Eet kleiner maaltye. Mik na ses klein maaltye per dag pleks van drie grotes. Dis ideaal vir sooibrand en spysverteringskwale.
  • Drink ’n glas melk voor slaaptyd; dit help om die suur in jou maag teen te werk. Jy kan ook ’n groot lepel droë hawermout eet.
  • Drink net teensuurmiddels wat jou dokter voorgeskryf het, of vra jou apteker wat veilig is tydens swangerskap.
  • Eet stadig en kou goed. Dokters sê as jy vinnig eet, kan jy lug sluk, wat lugpakkies in die maag kan vorm. As kos nie ordentlik verteer word nie, kan sooibrand dan vinniger ontstaan.
  • Moenie met etenstyd vloeistowwe drink nie. As vloeistowwe met die kos meng, neem dit te veel ruimte in beslag en laat dit jou net nog ongemakliker voel.
  • Moenie ná ete gaan lê nie. As jy horisontaal is, kan die maagsure maklik opstoot. Probeer regop sit tot jou kos gesak het. As jy lê, hou jou kop en skouers sowat 15 cm hoog om te voorkom dat die maagsure in jou keel opstoot. Slaap dus met ’n paar ekstra kussings.
  • Moet nooit ná etes oefen nie en indien jy oefen, vermy draf en gewigte optel aangesien dit die drukking op jou maag laat toeneem.
  • Bly weg van styfpassende klere en nagklere.
  • Probeer om sowat drie uur voor slaaptyd aandete te eet.
  • Moenie voor slaaptyd vloeistowwe drink nie. Hoe leër jou maag is wanneer jy lê, hoe beter.
  • Vermy kos wat geneig is om sooibrand te veroorsaak, veral sjokolade en kof¬e, witbrood, sitrusvrugte en -sap, tamatiegeregte, mosterd, asyn, pepermentprodukte, sterk gekruide kosse en gebraaide en vetterige kosse.
  • Bly ook weg van tee, gaskoeldrank en natuurlik alkohol.
  • Rook veroorsaak ook sooibrand (en is in elk geval verbode terwyl jy swanger is).

Tuisbehandeling

  • ¬Aalwynprodukte help vir sooibrand.
  • Vars gemmertee verskeie kere per dag kan help om sooibrand en naarheid te verminder. Sny sowat 3 cm af van ’n vars gemmerwortel en skil dit af. Rasper die gemmer fyn en voeg dit by ’n koppie kookwater. Jy kan groter hoeveelhede maak en dit regdeur die dag drink. Jy kan ook suurlemoen of lemmetjie byvoeg vir smaak.
  • Eet pynappel of papaja – dit help met spysvertering.
  • Voeg ’n teelepel koeksoda by ’n klein glas warm water. Meng dit en drink dit so vinnig as moontlik. Jy behoort onmiddellike verligting te voel.

Homeopatiese raad

Daar is verskillende homeopatiese middels op die mark wat sooibrand kan verlig. Volgens dr. Tanith Davidson, ’n Johannesburgse homeopaat, is die homeopatiese middels hieronder heeltemal veilig vir gebruik in swangerskap en het dit nie newe-effekte nie.

Die volgende is gewilde middels, maar gesels eers met jou homeopaat om seker te maak jy kry die beste resultate.

  • CAPSICUM Dit help vir ’n brandende pyn of as jou ingewande vasgedruk voel.
  • CONIUM Gebruik dit as jou sooibrand vererger wanneer jy saans gaan slaap. Dit help ook vir oggendnaarheid.
  • IRIS CERSICOLOR bied verligting vir ’n brandende pyn in die spysverteringskanaal, naarheid en braking.
  • NUX VOMICA help vir sooibrand, opgeblasenheid en ’n gevoel van swaarheid en pyn in die maag wat vererger as jy eet, al bly jy honger.
  • PULSATILLA help met die behandeling van sooibrand en as jou maag so styf voel dat jy jou klere losser wil maak.
  • ROBINIA behandel sooibrand en suurheid wat veral saans erg is wanneer jy lê.
  • TABACCUM behandel sooibrand, naarheid, duiseligheid en sweetuitslag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters