Dis hoe mens 'n pappa word
swangerskap

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba en Kleuter, Junie 2016) 

’N Swanger vrou is dikwels die middelpunt van al die aandag en selfs wildvreemdes sal om haar kloek. Met al die aandag wat op ma gerig is, kan pa afgeskeep voel.

HOE MA VIR PA KAN BETREK

Soms is al wat nodig is dat jy jou maat verseker dat jy lief vir hom en trots op hom is. Verseker hom dat hy die beste pa gaan wees waarvoor enige baba kan vra.

Lees: As pa ook kraamverlof wil hê

Hier is 10 praktiese maniere om hom te betrek:

  • Nooi hom saam na sonarondersoeke, doktersafsprake en voorgeboorteklasse sodat hy kan sien hoe jul baba ontwikkel en ook al sy vrae kan stel. As hy werklik nie die sonarondersoeke kan bywoon nie, bring vir hom ’n DVD of foto.
  • Versier die babakamer saam. Selfs al gaan jul baba dit nie onmiddellik begin gebruik nie, is dit ’n lekker projek om saam aan te pak. Pa’s is buitendien handig as dit kom by mure verf, muurpapier hang, bababeddens aanmekaarsit of swaar meubels rondskuif.
  • Hy kan dit selfs geniet om babaklere te gaan koop. Gun hom om al daardie “My pappa is die beste”-babapakkies.
  • Lees saam boeke en tydskrifartikels oor swangerskap.
  • Gee hom ’n vadersgeskenk. Dit sal hom laat uitsien na die dag wanneer hy ’n pa word.
  • Kies saam ’n naam. Dit is groot pret en julle kan selfs ’n speletjie daarvan maak.
  • Laat hom kyk en voel hoe jou maag beweeg wanneer jul baba begin skop. Dit sal hom help om vroeg reeds ’n band met sy baba te snoer. Moedig hom aan om met jul baba te gesels en die kleinding aan sy gunstelingmusiek bekend te stel.
  • Stel saam ’n geboorteplan op. Verduidelik wat jy sou verkies en hoekom, en luister ook na sy voorstelle. Vra hom of hy by wil wees met die bevalling en of daar enigiets is wat hom kwel of waaroor hy wonder sodat julle betyds antwoorde kan kry.
  • Nooi hom na jou ooievaarstee. Dit is nie tradisie nie, maar tye verander en baie vroue geniet dit om mans daar te hê.
  •  Vra hom hoe jy hom meer kan betrek en gesels daaroor. Hy kan jou moontlik verras met ’n hele paar fantastiese idees.

VIR PA: DIE GROOT DAG

Jy wag al nege maande lank op dié oomblik, die dag waarop jy uiteindelik jou nuwe baba ontmoet. Maar as jy eerlik moet wees, voel jy dalk effens angstig oor die geboorte.

Lees: 6 lesse van pa

Daarom is hierdie wenke bedoel om pa’s te help om kop te hou en hul deel te doen dat dinge glad verloop en sodat hulle ook die ervaring kan geniet. Hier is wenke oor hoe pa die perfekte maat kan wees:

  •  Gaan stap tydens vroeë kraam saam met jou vrou of speel haar gunstelingliedjie en dans met haar. Sy sal ontspan en die bevalling sal vinniger vorder.
  • Bly kalm. Moedig jou maat met liefdevolle woorde aan, vryf haar rug saggies of bring vir haar water of ’n koel waslap as sy dit nodig het.
  • Vra mense in die omgewing om saggies te praat en te werk. Dit is heel moontlik een van die belangrikste dinge wat jy kan doen.
  • Moenie op die tegnologie fokus nie.
  • Hou net haar hand vas of sit by haar sonder om te praat.

As jy sien dat sy teruggetrokke raak, moet jy weet dat sy jou nie verstoot nie. Dit is haar instink wat inskop, juis omdat jy heeltyd aan haar sy was!

WEES VOORBEREID

’n Mens hoor baie grappies, ook op televisie, oor die pa wie se motor sonder petrol gaan staan het op pad na die hospitaal. Moenie dat dit met jou gebeur nie. Selfs al is daar nog tyd, sal ditdinge baie minder stresvol maak as jy nie eers by die vulstasie hoef te stop nie. Sorg dus vanaf week 36 dat jou kar altyd genoeg brandstof in die tenk het!

“EK DINK DIE BABA IS OP PAD!”

Dit is nogal ’n skok wanneer jy haar dié woorde hoor sê, maar die beste ding wat jy kan doen is om kop te hou en kalm te bly. Dit is nie nodig om onmiddellik hospitaal toe te jaag nie. Moedig haar eerder aan om nog ’n bietjie te rus en gebruik eerder jou besorgde energie om haar rug saggies te masseer.

Lees: Strelende liefde

Wanneer julle by die hospitaal kom, moet jy haar wense respekteer. Sy kan dalk baie gevoelig wees vir aanraking en verkies dat jy nie aan haar raak nie. Ander vroue smag weer na aanraking of koestering of dat iemand hul hand vashou. As sy dalk effens kortaf en ongeduldig is, moet jy dit nie persoonlik opneem nie.

Vertel haar hoe wonderlik sy is. Studies het getoon dat ’n aanstaande ma wat baie aanmoediging kry, kraampyne baie makliker hanteer.

Het jy geweet dat beweging help om kraam te bevorder? Gaan stap saam met haar of speel haar gunstelingliedjie en dans  met haar. Dit sal haar help om te ontspan.

Lees: Wanneer skop sy?

Weerstaan die versoeking om die monitors stip dop te hou (iets wat pa’s graag doen). Maak eerder elke oomblik met haar mee sodat julle hierdie spesiale ervaring vir ewig saam kan koester. Hierdie wenk sal haar – en jou! – help om te ontspan: Sluit jou oë en laat rus die punt van jou tong bo teen jou verhemelte, net bó en agter jou voortande. Jy sal dadelik voel hoe die bene en spiere injou gesig van posisie verander en jou gesig en nek ontspan.

DIE BABA IS HIER… WAT NOU?

Moenie bang wees om jou baba vas te hou nie. Jy sal hom nie seermaak nie. Jou growwer vel en effens fermer greep is belangrik om hom veilig te laat voel en te leer ken. Dit is een van die mees spesiale ervarings in die lewe – ontspan en geniet dit.

NB: Dié artikel is ’n aangepaste uittreksel uit Suster Lilian Paramor se boek, Omvattende swangerskap-, geboorte- en ouerskapgids, Human & Rousseau (2016). 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters