HELP, my brein is poeding!

Poedingbrein, bababrein, sif-kop, mammanesie, noem dit wat jy wil, maar dit kan jou op enige gegewe oomblik bloedrooi laat bloos. Selfs vroue met ’n andersins uitstekende geheue of wat altyd uiters georganiseerd is, voel of hulle die kluts kwyt raak.

Dit voel of jy met elke ekstra kilo wat jou swanger lyf aansit, ’n paar breinselle verloor. Jy soek na jou selfoon net om dit in die yskas te vind. En dan weet jy ook alte goed hoe dit voel om ’n belangrike werkafspraak te vergeet of by ’n plek in te stap net om skielik geen benul te hê waarom jy daar is nie.

Bestaan poedingbrein regtig? “Sonder twyfel,” sê die Johannesburgse swangerskapskenner Tina Otte.

“Elke swanger vrou ervaar dit in ’n sekere mate,” beaam Henny de Beer, ’n vroedvrou van Growth Spurt. Ginekoloë is dit meestal ook eens dat poedingbrein bestaan, hoewel daar baie onsekerheid is oor die oorsake. Navorsing oor die onderwerp is beperk en die bevindinge is dikwels teenstrydig.

Die oorsake

Die studies wat wel al gedoen is, het ’n paar interessante bevindings oor die oorsake opgelewer.

  • Te min slaap en baie hooi op jou vurk het ’n invloed op enigiemand se geheue. Dit is daarom doodnormaal om vergeetagtig te wees wanneer jy moet skarrel om jou gewone dagtake gedoen te kry terwyl jou kop vol babaname, kleure vir die babakamer én ander bekommernisse is. Jou besige gedagtes en fisieke ongemak laat jou boonop snags rondrol, wat moegheid vererger en jou brein nog dowwer maak.
  • Nuwe prioriteite Vanaf jou eerste trimester begin jy ál meer aan jou baba en haar welstand dink. Jou IK daal nie skielik nie, maar dít wat vir jou belangrik is, verander wel.
  • Swakker geheue Daar word gemeen dat swanger vroue se kognitiewe vermoë niks minder is as ander Evas s’n nie. Vergeetagtigheid is wel ’n werklikheid vir ampermammas. Volgens ’n Britse studie tas veranderende hormoonvlakke jou ruimtelike bewustheid en geheue aan, wat verklaar hoekom jy so sukkel om te onthou waar jy iets gebêre het. Dit is veral jou korttermyngeheue wat aangetas word – met ’n hoogtepunt in die derde trimester.
    “Daar is nie noodwendig bewyse hiervan nie, maar ek glo jou geheue is juis in die laaste trimester swakker omdat jou endorfienvlak so hoog is. Dis logies dat dit jou liggaam se manier is om jou te laat vergeet van die laaste, moeilike maande van swangerskap en die bevalling,” sê Tina. “Endorfiene verander jou persepsie van tyd, wat ’n belangrike hulpmiddel is terwyl jy kraam."
  • Drastiese veranderinge in hormoonvlakke Jou brein word in 15 tot 40 keer meer progesteroon en estrogeen gemarineer, sê dr. Louann Brizendine, direkteur van die Women’s Mood and Hormone Clinic aan die Universiteit van Kalifornië in Amerika. Dit is ook hierdie hormone wat alle vorme van senuselle in jou brein beïnvloed.
    Teen die tyd dat baba kom, is daar ook ’n groot hoeveelheid oksitosien wat afgeskei word wat veroorsaak dat die baarmoeder saamtrek en melk gemaak word, en wat help met die binding tussen ma en baba. Hierdie stowwe het alles ’n invloed op die werking van jou brein. 
  • Jou breinwerking Sommige wetenskaplikes meen dat jou volume breinselle in jou derde trimester verminder, maar dat dit ná die geboorte weer herstel. Verder word daar ook gemeen dat die werking van jou brein effens verander en dat die deel wat met emosionele vaardighede verband hou, harder werk om die band tussen ma en baba te help vorm.
  • ’n Beskermingsmeganisme “Ek glo dit is ’n fisiologiese proses wat ’n swanger vrou dwing om haar lewe te vereenvoudig en haar voorberei op ’n leefstyl waar sy nie altyd ten volle in beheer gaan wees nie – want dít is wat ouerskap behels,” sê Henny.
    “As ons liggaam ons nie dwing om stadiger te leef nie, sal ons bloot tot en met die geboorte soos ’n hamster op ’n wieletjie hardloop.” Jou liggaam wil jou dus laat afskaal sodat jy daarop en op jou baba kan fokus.

Vergeetagtigheid na swangerskap

In teorie keer jou hormone en dus ook jou brein terug na normaal wanneer die geboorte verby is, maar daarna kan veral slaapgebrek jou baie dof laat voel.

’n Vrou kan tot 700 uur slaapskuld in die eerste jaar van baba se lewe opbou, wat beteken dat jou brein waarskynlik net genoeg kapasiteit het vir die versorging van jou kindjie, sê Louann.

Weer eens is dit jou liggaam se manier om jou te dwing om af te skaal en net op jou eie welstand en jou baba te fokus.

“Onthou dat dit baie oorweldigend is om ’n baba te hê. Dis ’n werk wat jy 24 uur van die dag en sewe dae van die week doen; luister dus na jou liggaam,” sê Tina.

Wenke vir poedingbrein

1. Maak lysies, plak notas op en vra jou ander helfte om jou te herinner aan belangrike items en afsprake.

2. Probeer genoeg slaap en rus – voor die geboorte al, sê Henny.

3. Om gespanne te raak oor jou vergeetagtigheid of jou daaroor te kasty, sal die probleem net vererger. Dit is tydelik en doodnormaal.

4. Onthou dat jou poedingbrein uiteindelik net nóg ’n wonderlike manier is waarop jou liggaam en Moeder Natuur jou beskerm en voorberei op hierdie nuwe fase in jou lewe.

5. Dis nie aldag so maklik om te lag oor jou poedingbrein nie, maar herinner jou gerus aan die wonderwerk wat besig is om binnein jou plaas te vind – al bevind jy jou in ’n aardige posisie of verleentheid. Agterna sal jy waarskynlik lekker kan giggel oor jou manewales!

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters