Ken jou borste
swangerskap

Die laaste ding waaraan jy wil dink wanneer jy swanger is of borsvoed, is borskanker. Maar net soos voor jou swangerskap moet jy as swanger vrou en nuwe ma van jou borsgesondheid bewus bly.

“Borskanker kom in sowat een uit elke 3 000 swangerskappe voor, meestal by vroue tussen 32 en 38,” sê prof. Justus Apffelstaedt, hoof van die chirurgiese onkologiediens by die Universiteit Stellenbosch en stigterslid van die Globale Borsgesondheidsinisiatief.

Ál meer vroue stel swangerskap uit tot in hul middel dertigs, wanneer borskanker meer algemeen voorkom, sê Justus. Hoewel borskanker tydens swangerskap seldsaam is, verwag dokters dus om in die toekoms meer gevalle te diagnoseer.

DIE GEVREESDE K

“Borskanker is die onbeheerste groei van selle in die borskliere wat na ander liggaamsdele kan versprei deur die bloedstroom of limfkanale,” verduidelik Justus. Borskanker wat vroeg opgespoor word, kan met ’n groter kans op herstel behandel word. Intensiewe behandeling is nodig wanneer ’n knop of verdikking ontwikkel het omdat die kanker dan reeds vinnig groei.

JOU NUWE BORSTE

Borste wat sommer baie sensitief is vir aanraking is dikwels die eerste teken van swangerskap. Borssensitiwiteit is volgens Justus veral in die eerste drie maande van swangerskap normaal. Omdat die kliere in die bors vergroot, word jou borste groter en fermer.

Teen die middel van jou swangerskap begin jou tepels verander en die grootte van die tepel en areola (die donker deel om die tepel) kan verdubbel.

Die pienk-bruin kleur van die vel kan donkerder word as gevolg van groter bloedtoevoer. Wanneer die borste teen die einde van jou swangerskap kolostrum begin vervaardig, voel hulle swaar.

Jy kan ook klein knoppies om die areola opmerk. Dié kliere vervaardig olie wat borsvoeding vergemaklik. Jou tepels word meer elasties.

KEN JOU LYF

Vroeë borskanker het gewoonlik nie simptome nie, maar namate die gewas groter word, kan die bors anders begin lyk of voel, volgens die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa). Hoewel knoppe of verdikkings dieselfde is by swanger vroue en vroue wat nie swanger is nie,

maak die swelling van die borste tydens swangerskap dit moeiliker om abnormaliteite te identifiseer, sê Justus. Die gevolg is dat borskanker dan dikwels in ’n gevorderde stadium gediagnoseer word.

Dit is normaal dat jou borste soms knopperig voel, maar raadpleeg jou dokter as jy die volgende veranderinge opmerk:

• ’n Knop of verdikking in of naby die bors of in die armholte;

• ’n Verandering in die vorm of grootte van die bors;

• ’n Tepel wat na binne inkeer;

• Abnormale afskeidings van die tepel;

• Skubberigheid, rooi of geswelde vel op die bors, tepel of areola; en/of

• Die vel van die bors lyk of voel soos lemoenskil.

DOEN ’N SELFONDERSOEK

Hormoonveranderinge in die liggaam tydens swangerskap kan die groei van Borskanker versnel. Roetine-borsondersoeke vir die duur van jou swangerskap is dus ononderhandelbaar.

Doen elke maand ’n bors-selfondersoek tydens ovulasie en verkieslik op dieselfde tyd van die dag deur plat op jou rug te lê met ’n kussing onder jou regterskouer en jou regterhand onder jou kop.

Maak klein, ferm sirkelbewegings met die vier vingers van jou linkerhand in ’n op-en-af-patroon oor die hele bors, onder die arms en op tot by jou skouer. Herhaal met jou regterhand op jou linkerbors.

Doen dieselfde deur met plat vingers en ’n seperige hand jou borste onder die stort te ondersoek en bekyk jou borste aandagtig in die spieël deur jou arms langs jou sye, bo jou kop en op jou heupe te hou.

BEHANDELING TYDENS SWANGERSKAP

Swanger vroue met borskanker kan volgens navorsing net so goed op behandeling reageer as vroue met kanker in dieselfde stadium wat nie swanger is nie. Volgens Kansa kan die meeste swanger vroue wat met borskanker gediagnoseer word, hul baba tot die einde van hul termyn dra.

In sommige gevalle moet die beëindiging van die swangerskap egter oorweeg word, sê Justus. Dit is volgens Kansa gewoonlik net nodig indien jy chemoterapie moet kry en minder as 14 weke swanger is. Chemoterapie kan gewoonlik tot ná 14 weke uitge- stel word.

Dit is nie ’n maklike keuse nie en een wat net die pasiënt kan maak, met behulp van ’n span kundiges en berading. Gaan jy met die swangerskap voort, is ’n mastektomie in die tweede trimester ’n opsie.

Chemoterapie kan met matige veiligheid ná die eerste drie maande van swangerskap toegedien word, wanneer al die belangrike organe klaar gevorm is.

Hormoonterapie is onmoontlik vir die duur van die swangerskap en swanger vroue kan nie bestraling ondergaan nie omdat dit die fetus ernstig kan benadeel.

KAN BORSKANKER MY BABA RAAK?

Daar is ’n grens tussen die ma en baba se liggaam wat voorkom dat enige kankerselle by die fetus uitkom en kankerselle kan die fetus ook nie deur die bloed bereik nie.

AS JY BORSVOED

Kankerselle kan nie deur borsmelk aan jou baba oorgedra word nie, maar dokters beveel aan dat vroue wat pas die lewe geskenk het en borskankerbehandeling moet ondergaan, nie borsvoed nie.

Voordele sluit in dat die borste verklein en bloedtoevoer na die borste verminder word voor ’n operasie. Die moontlikheid van infeksie en die versameling van borsmelk tydens ’n biopsie word ook beperk.

As ’n pasiënt chemoterapie moet ondergaan, moet borsvoeding gestaak word, omdat talle chemoterapeutiese agente in hoë vlakke in borsmelk kan voorkom. Hormonale kankerbehandeling maak borsvoeding onmoontlik en ’n bors wat met bestraling behandel is, sal nie melk kan vervaardig nie.

SWANGERSKAP NÁ HERSTEL

Swangerskap is moontlik nadat jy suksesvol vir kanker behandel is, hoewel behandeling jou vrugbaarheid kan aantas. Volgens Justus kan ’n volle kursus chemoterapie die eierstokke sowat 10 jaar ouer maak.

Kankerpasiënte word aangeraai om minstens drie jaar te wag voor hulle swanger word omdat borskanker dikwels binne twee of drie jaar kan terugkeer

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters