Wanneer is dit die ware Jakob?

Hoewel daar meer as ’n handvol tekens is wat kan verklap dat die uur uiteindelik aangebreek het, ervaar nie alle vroue die begin van hul bevalling op dieselfde manier nie. Hoe jy dit ervaar, hang af van:

  • ¬Of dit jou eerste baba is (of nie),
  • Jou reaksie op pyn, en
  • Hoe voorbereid jy is op wat presies kraam behels.

Die sewe dinge wat ons hieronder noem, is almal tekens dat die eerste stadium, vroeë kraam, begin het.

Daar is nog drie ander stadia van kraam: ’n oorgangstadium (net voor jy begin druk); ’n tweede stadium (van die ontsluiting van die serviks tot jou baba heeltemal uit die geboortekanaal is) én ’n derde stadium (ná die geboorte waartydens die naelstring afgebind word).

Die eerste stadium duur van die begin van kraam tot jy ten volle (10 cm) ontsluit het. Jy hoef nie onmiddellik hospitaal toe te jaag nie, maar maak jou reg om jou baba binne 12 tot 18 uur te ontmoet. Die eerste stadium het begin as:

  • ¬Jy steekpyne en krampe in die bekkenvloer voel. Dis byna dieselfde gevoel as kort voor jy begin menstrueer. Die pyne en krampe ontwikkel tot reëlmatige sametrekkings, waarvan die tussenposes ál korter word en die intensiteit ál meer. Hierdie sametrekkings duur aanvanklik sowat 20 sekondes, maar strek tot 90 sekondes net voor jou baba gebore word. Jy sal dié sametrekkings nie sommer met Braxton Hicks-kontraksies (spook-kraampyne) verwar nie. Met laasgenoemde word jou maag net stywer en dit verdwyn as jy ’n rukkie gaan lê of van posisie verander. Ware kontraksies verdwyn nie, ongeag die posisie wat jy inneem, maar voel soos ’n groot golf wat aan die bokant van die baarmoeder begin en afwaarts in die rigting van jou serviks beweeg. Die kontraksies hou gemiddeld 15 uur aan, maar dit kan ook ses uur langer of veel korter duur.
  • Jou water breek. Dit beteken die vrugsak met sy inhoud van vrugwater skeur. Die water kan uitstroom of net liggies uitsypel. Water wat breek dui nie noodwendig daarop dat kraam onmiddellik gaan begin nie, maar jy sal beslis hospitaal toe moet gaan nadat dit gebeur het.
  • ’n Deurskynende slymprop wat bloedstrepies kan bevat, uitgeskei word. Dit staan ook bekend as toonbloeding en is nie noodwendig ’n teken dat kraam baie naby is nie. Sommige vroue begin eers aktief kraam ’n paar dae nadat hierdie jellierige proppie losgekom het.
  • Jy losser stoelgange het. Die bekende vroedvrou en skrywer suster Lilian noem dit die natuur se enema.
  • Jy besonder prikkelbaar is.

Jy sukkel om te slaap. Ander moontlike tekens dat jou baba binne die volgende paar dae sy opwagting kan maak is:

  • ¬’n Besonder swaar gevoel in die bekken met drukking op die blaas. Dit gebeur terwyl die baba afdaal. Dit is veral die geval met eerste swangerskappe. Hoewel jy nou meer gemaklik sal asemhaal, gaan jy waarskynlik moeiliker beweeg.
  • ’n Skielike vlaag van voorbereidingsenergie wat oor jou spoel.

Met tweede en latere swangerskappe ontsluit die serviks soms al voor aktiewe kraam begin het. Jy sal egter onbewus daarvan wees omdat dit net met ’n inwendige ondersoek vasgestel kan word.

Vertrou die natuur. Miskien is dié riglyn van suster Lilian die beste raad: As jy twyfel, is jy waarskynlik nog nie aktiewe kraam nie – jy sal weet wanneer dit werklik kraam is!

Wat as jy al meer as 39 weke swanger is en geen van die tekens gewaar nie?

Jy en jou dokter behoort teen 42 weke ’n plan van aksie te hê, maar onthou dat ’n voltermynswangerskap 38 tot 42 weke duur, en dat net 3 tot 5 persent van babas op hul verwagte datum gebore word.

Gaan nou hospitaal toe:

Ongeag die tekens van kraam wat jy al ervaar of nie ervaar het nie, moet jy onverwyld hospitaal toe gaan as:

  • ¬Jy elke drie tot vyf minute gereelde kontraksies het, of drie kontraksies binne ’n tydsduur van 10 minute. Span jou slimfoon in: Jy kan ’n gratis toepassing a-aai om jou te help om die begin en einde van die kontraksies aan te teken. Baie van hierdie toeps trek ’n gra ek wat vir jou wys of jou kontraksies ál nader aan mekaar plaasvind of nie.
  • Jou water gebreek het en veral as die vloeistof groen, bruin, geel of enige ander kleur as deurskynend of pienk is.
  • Jy koors of ’n intense hoofpyn het, óf as jy ’n verandering ervaar in jou visie en dit met buikpyn gepaardgaan.
  • Jy bloei.
  • Jy aanhoudend opgooi.
  • Dit voel of jy die baba wil uitdruk.
  • Dit voel of die baba nie beweeg nie.

Dit is nog nie tyd nie...

Die stadium voor die eerste stadium van kraam kan dae of selfs weke duur. Dit is vir baie vroue (en selfs dokters) moeilik om te bepaal wanneer die eerste stadium aangebreek het. Moet jou nie laat mislei deur hierdie tekens nie:

  • ’n Bruin, slymerige afskeiding. Die vaginale afskeiding wat die eerste stadium van kraam aankondig moet ligpienk en/of bloederig wees. ’n Bruinerige afskeiding waar dit lyk of die prop losgekom het, is dikwels bloot die gevolg van ’n inwendige ondersoek of seks.
  • Jy wakker word in ’n plas water wat na ammoniak ruik. Oeps, dít is net urine en nie vrugwater nie. Laasgenoemde is reukloos en die vloei daarvan hou nie op nie, selfs al sypel dit net liggies uit.
  • Ongereelde kontraksies in die lae buik eerder as in die lae rug wat nie sterker word nie. Vals kontraksies gaan ook gepaard met die beweging van jou baba en kan selfs ná jou verwagte datum nog voorkom. Moet egter nie rooi in die gesig wees as jy teruggestuur word huis toe omdat jy gedink het jy is al in kraam nie. Jy is een van derduisende vroue voor (en na) jou wat dieselfde foutjie begaan het.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters