Werk daai boep!

(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Jul 2015) 

Vra ’n bietjie die ma’s wat saam met jou werk – dis ’n heel nuwe uitdaging om swanger te wees op kantoor, waar dit nie aldag maklik is wanneer ’n vreeslikevaakte of ’n onbeheersde honger jou tydigen ontydig oorval nie. As jou werk boonop vereis dat jy baie moet reis, gaan alles langer duur omdat jy kort-kort sal moet stilhou om ’n draai te loop.

 Jy gaan moontlik ook ’n groter handsak moet aanskaf vir bykomende proviand (groeiende babas is honger) en sooibrandmiddels. Die meeste swanger vroue kies deesdae om te werk tot kort voor baba se geboorte sodat hulle hul kraamverlof saam met hul baba kan deurbring.

Dis egter moeilik om voor die tyd te voorspel of dit vir jou gaan werk, want jy weet nie hoe jy in daardie laaste paar weke gaan voel nie. Baie vroue is van 37 weke af so moeg dat hulle in elk geval nie regtig kan werk nie – gaan dan eerder met kraamverlof as om jou kollegas te irriteer.

Hier volg ’n paar wenke oor hoe jy jou swangerskap by die werk ’n bietjie makliker kan maak ...

OGGENDNAARHEID

Moenie ontbyt oorslaan nie, al voel dit asof jy van die naarheid wil omdop. Pak peuselhappies in werk toe – eenvoudige goed soos Mariebeskuitjies en gemmerkoekies slaan dikwels die naarheid hok.

Vra jou dokter vir ’n veilige pilletjie teen naarheid en hou ’n tandeborsel of mondspoelmiddel in jou handsak in geval van nood. Leer jou naarheidsiklus ken. As jy soggens naarder voel as smiddae, kan jy werkafsprake tot die middag uitstel.

RUS TERWYL JY WERK

Dis belangrik dat jy gemaklik voel terwyl jy werk. Geniet gereeld kort blaaskanse. As jy baie moet staan, kan jy ’n rukkie gaan sit met jou bene gelig. En as jy baie sit, moet jy gereeld opstaan en bene rek.  Gaan loop klein entjies en strek gereeld.

Sorg dat jy gemaklike klere en skoene dra. Los maar eers die hoë hakke.

As jou werk baie fisieke inspanning verg en nie geskik is vir ’n swanger vrou nie, moet jy jou dokter vir ’n brief vra en jou werkgewer skriftelik in kennis stel dat jy swanger is. Vra vir alternatiewe werk tydens jou swangerskap.

As jy baie moet reis, kan jy vooraf vir jou werkgewer vra of jy dalk kan afskaal, veral in die laaste twee of drie maande.

Onthou, jou balans verander heeltemal namate jou magie swel en wanneer jy jou derde trimester binnegaan, is dit beter om sekere aktiwiteite soos klim te vermy.

LIGLOOP HIERVOOR

Hieronder is ’n paar werkverwante risiko’s wat in die boek Your Pregnancy Over 30 deur Glade B. Curtis uitgespel word. Onthou dat jou werkgewer verplig is om vir jou ’n veilige werkomgewing te skep.

  • As jy meer as drie uur per dag aaneen op jou voete moet staan,
  • As jy op ’n nywerheidsmasjien werk, veral as dit baie vibreer en inspanning verg om te hanteer,
  • As jy moeilike fisieke take moet verrig soos om te lig, trek, druk of intensief
  • skoon te maak,
  • As jy ernstige geraas of buitengewone temperature moet verduur,
  • As jy lang ure moet werk,
  • As jy aan aansteeklike siektes blootgestel  word, en
  • As jy aan chemiese of giftige stowwe blootgestel word.

OP DIE PAD

Hoewel dit vermoeiend kan wees, kan ’n gesonde vrou met ’n normale swangerskap in die eerste en tweede trimester sonder veel moeite reis. Die beste tyd om te reis is in jou tweede trimester, wanneer jy meer energiek voel en die gevaar van komplikasies kleiner is. In jou derde trimester kan jy sukkel om lang tye aaneen te sit.

Hier is wenke om dit makliker te maak:

  • As jy naar word terwyl jy in ’n motor ry, is ’n paar beskuitjies nie ’n slegte plan nie.
  • Vermy gebiede waar goeie mediese sorg nie vrylik beskikbaar is nie of waar die klimaat, kos of lugdruk drasties verskil van waaraan jy gewoond is.
  • Moenie reis in die laaste maand van jou swangerskap nie.
  • As jy probleme soos bloeding of krampe het, moet jy glad nie reis nie.
  • As jou hande en voete erg swel en jy oor die algemeen ongemaklik voel, kan ’n paar uur in ’n motor of vliegtuig dit vererger.
  • Hou jou dokter se naam en nommer byderhand as jy reis.
  • Dis nie wys om enigsins te reis as jy ’n hoërisiko-swangerskap het nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters